Laaities laat loop op die rugbyveld
Die kleintjies het hul groter maatjies harde bene laat kou.

Witrivier Preprimêre Skool se gr. R-mannetjies het onlangs gewys dat hulle hul man op die rugbyveld kan staan – selfs teen hul seniors wat reeds in gr. 1 is.
Dié spannetjie het hard geoefen en was baie entoesiasties om aan ’n minisportdag wat deur Laerskool Numbi in Hazyview aangebied is, te gaan deelneem.
Daar gekom moes hulle tot hul teleurstelling ontdek dat die ander kleuterskoolspanne op kort kennisgewing onttrek het.
Om die situasie te red, is daar toe besluit dat hulle wel teen die gr. 1’s van Laerskool Numbi sowel as van Laerskool Lydenburg mag uitdraf.
Die kleintjies het glad nie op hulle laat wag nie en hul groter maatjies harde bene laat kou.
Daar is nie amptelik van dié wedstryde telling gehou nie, maar die Witrivier-span het hulle só goed van hul taak gekwyt dat hulle nie kan wag vir ’n volgende geleentheid om hul slag met die ovaalbal te wys nie.

