‘n Gelukkige oudag tog moontlik ontdek oues
Ons goue teaterpaar, Wilson Dunster en Elize Cawood, het die afgelope jare begin spesialiseer in stukke wat die lief en leed van die ouderdom besing, beween, en alle emosies tussenin aanraak.

Mike en Mavis deur Wessel Pretorius
Met Wilson Dunster en Elize Cawood
Regie: Gerrit Schoonhoven
Dit is asof hulle die perfekte artistieke mondering besit om alle moontlike variasies rondom dié fenomeen met ‘n aandoenlike gemak op ‘n verhoog te plaas – een waarmee veral ouer lede van die gehoor altyd kan identifiseer.
Opvallend was ook dat ‘n hoë persentasie van daardie stukke deur Suid-Afrikaanse dramaturge geskryf is, soms in opdrag van Elize en Wilson, of in ander gevalle ander wat aan húlle opgedra is.
Mike en Mavis deur die teatermagiër Wessel Pretorius kan wat oorspronklikheid en fantasie betref as een van die mees inspirerende kleinode in die steeds groeiende lys van eenakters vir ‘n man en ‘n vrou beskou word.
Lees meer: Rap ‘n Rol se wenners aangewys
Pretorius het volle kontak en deernis met die menslike siel wat immer op soek is na die soort van konneksie wat vernietigende eensaamheid kan omtower in ‘n verrykende “tweesaamheid”.
Mike en Mavis weerspieël ‘n delikate menslikheid, met ‘n brokaatagtige tekstuur wat uiters versigtige hantering vereis. Die intrige is so broos soos ‘n spinneweb. Hierdie twee siele is deur die lewe gelouter, maar toe laat staan… of so blyk dit te wees.
Mavis se dogter, Deirdre, woon oorsee. Daar is gereelde gesprekke tussen die twee, maar Mavis verskrompel letterlik en figuurlik as gevolg van die afstand tussen hulle.
Lees meer: Innibos rol met van SA se gunstelingkunstenaars
Daar skuil ‘n fabelagtige atmosfeer en romantiek agter die oënskynlik alledaagse van die gebeure. Pretorius weet presies hoe om die inherente magiese realisme daarvan op verskeie bewussynsvlakke in te ent.
Elize is veral besonder aangrypend in haar monoloë wat al vroeg in die stuk haar werklike sielenood aan die gehoor oordra voordat die ontmoetings met die oujongkêrel Mike (wat self ‘n paar tragedies in sy lewe ervaar het) haar lewe verander in een van optimisme, asook die kans op ‘n fase van nuwe geluk wat intree.
Die dialoog is volkome natuurlik en nooit effeksoekerig of gelaai met clichés nie. ‘n Voorbeeld: Mavis wat aanvanklik geen alkoholiese drank oor haar lippe sal laat vloei nie, word later deur Mike aangepor om tog maar wyn te begin drink. Hy verwys daarna as synde “grown-up grape juice”.
Lees meer: A true classic play on stage at Innibos
Gerrit Schoonhoven, wat reeds voorheen met Winson en Elize saamgewerk het, se regie is die ene onderbeklemtoning wat perfek werk om die gehoor daarvan te oortuig dat ‘n paradyslike oudag moontlik is solank die sirkelgang van die lewe daarin slaag om sielsgenote uiteindelik by mekaar uit te bring.
Dít is Mike en Mavis se storie… sonder te veel sentiment wat dit bloot alledaags sou kon laat klink en lyk het.
