Vier die hervorming saam met die drie susterskerke
Die Hervormingsdiens begin om 18:00 op 28 Oktober by die Hervormde Kerk in Belladonna Straat.

MBOMBELA – Verlede jaar het Protestantse kerke wêreldwyd en regoor die land die 500ste herdenking van die Hervorming gevier en vanjaar gaan hulle weer dié belangrike hoofstuk in die Christelike kerk se bestaan in herinnering roep.
Die NG Kerk Westergloed, Gereformeerde Kerk en Hervormde gemeente gaan Sondag 28 Oktober vir ‘n spesiale diens bymekaar kom en nooi die gemeenskap en lidmate van alle kerkverbande om hierdie geskiedkundige geleentheid by te woon.
LEES OOK: Hondeterapie en saamwees ‘n plesier vir senior burgers
Maarten Luther het op 31 Oktober 1517, 95 stellings gepubliseer waarin hy sekere gebruike in die Roomse Kerk bevraagteken het en het daarmee die Hervormingsbeweging op tou gesit. Ondersteuners van die beweging en eendersdenkendes is Protestante genoem.

Volgens ds. Eliska Muller, leeraar by Westergloed, is die kernbeginsels van die Hervorming en die Protestantse leer op die volgende gebaseer: Christus alleen, God in genade alleen, geloof alleen en die Woord alleen.
Sy gaan ook die diens op die dag lei met die tema: Jesus is alles, alles is Jesus. Die verrigtinge gaan uitvoerings deur orreliste en musikante van die verskillende gemeentes insluit.
LEES OOK: Dié basaar is op ‘n eg tradisionele lees geskoei
“Dit is altyd so spesiaal wanneer die wyer geloofsfamilie bymekaar kom en dit is lekker dat die drie susterskerke oor grense heen kan saamwerk en bid, en die dag vier,” sê Muller.
