Local newsNews

Argentum Corona se jaar begin met ‘n liefdesmaal

Die plaaslike organisasie vir senior burgers het hulle jaar se kuiergeleenthede met 'n ete ter viering van Valentynsdag afgeskop.

MALALANE – Argentum Corona het hulle jaarlikse aktiwiteite oudergewoonte met ‘n viering van die liefde afgeskop.

Dié organisasie vir senior burgers is Donderdagoggend deur die Hervormde Kerk met ‘n heerlike ete op die saal se stoep bederf.

Die lede was in Valentynskleure getooi en die atmosfeer was baie vrolik soos die groep al die nuus van die feestyd met mekaar gedeel het.

Ds. Kiewiet van Deventer het weer ‘n treffende boodskap oor die liefde gelewer en hulle het opnuut besef dat daar baie mense in die gemeenskap is wat hulle liefhet en ondersteun.

LEES: Geloof en bystand dra stappers vir 718 km van SA se weste na ooste

Daarna is daar aan ‘n heerlike ete, insluitend poeding gesmul.

Lede van Argentum Corona het hul waardering teenoor die span van die Hervormde Kerk uitgespreek vir die heerlike kos en moeite wat hulle elke jaar doen.

Argentum Corona is al vir byna 36 jaar aan die gang (sedert 1983) en ontmoet tans elke twee weke. Die doel is om te verseker dat pensionarisse van Malalane, Hectorspruit en Marlothpark saam met mense van hul portuur kan kuier, nuwe vriende maak en mense bewus maak van hulle lief en leed.

Verskeie kerke, skole, besighede en individue maak beurte om as gasheer vir die groep op te tree. Die byeenkomste sluit soms ook musikale vermaak, speletjies of ander prettigheid in.

LEES: Senior burgers en Argentum Corona ondersteuners word met ‘n vroeë Kersete bederf

Daar word elke jaar ook ‘n Sprankel-persoonlikheid gekies. Dié persoon se verantwoordelikheid is om elke lid wat verjaar spesiaal te laat voel deur op byeenkomste aan hulle ‘n geskenk te oorhandig. Hierdie jaar dra Eugene Bothma die kroon (of bolkuil) en hoop om nuwe tradisies te skep.

Om meer van Argentum Corona uit te vind of betrokke te raak, skakel die voorsitter Marie Coetzee by 082-824-4103.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button