Editor's choiceLocal newsNewsNews

Ervare gevegkunstenaar rig jonges af

Volgens Willem is daar min indien geen ander vegkunste wat tae kwon do se skoppe kan ewenaar.

Willem Kok kan stof in bykans enigiemand se oë skop. Letterlik.

Hy is ‘n plaaslike tae kwon do-afrigter met ‘n tweede dan agter sy naam en beoefen dié gevegkuns al vir 30 jaar. Die koerant het van nader kennis gemaak met hom en ook meer uitgevind oor dié gewilde sport.

“Ek is in Vereeniging gebore en het ook daar grootgeword. Ek het 1991 aan Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer en is daarna van 1992 tot 1993 weermag toe, waar ek die rang van tweede luitenant beklee het. Ek het as meulemaker by Yskor in Vanderbijlpark gekwalifiseer en was daar tot 2007. In dieselfde jaar word ek as ambagsman by Twee Riviere aangestel en verhuis ons Lydenburg toe.”

Willem is getroud met Maricke en het ‘n seun, Elje en dogter, Amone. Volgens hom het hy van ‘n jong ouderdom af in gevegkuns belang gestel. Dit is behoorlik geprikkel na hy sy eerste Bruce Lee-fliek gesien het. Die gewilde sportman en rolprentster van gevegkuns was Willem se inspirasie om met tae kwon do te begin.

“Ek het na ‘n paar style gekyk voor ek begin het en tae kwon do het my die meeste geïnteresseer.”

Willem het ook Suid-Afrika in 1999 in Argentinië by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig. Hy het nou sy tweede dan in tae kwon do. Die Chinees vir die woord dan beteken “stap” of “vlak”, maar word ook gebruik om te verwys na ‘n mens se rang of graad. Dit wil sê ‘n graad of vlak van kundigheid en kennis.

Die grootste verskil tussen tae kwon do en ander Oosterse gevegkuns is die skoppe. “Tae kwon do is bekend vir sy skoppe en gebruik glad nie wapens nie. Dit beteken ‘the way of the foot and fist’. Die Internasionale Tae Kwon Do Federasie is relatief jonk in vergelyking met ander gevegkunste. Dit het in 1955 ontstaan en is eers in 1959 aan die res van die wêreld bekendgemaak.”

Volgens Willem is daar min indien geen ander vegkunste wat tae kwon do se skoppe kan ewenaar. Dit word deur die Koreaanse weermag as ‘n vorm van selfverdediging geïmplimenteer. Dissipline in die sport is ook baie belangrik.

“Die stigter van tae kwono was genl. Choi Hong Hi, dus het dit militêre beginsels wat dissipline hoog op prys stel. “Net soos enige kontaksport het dit ook sy beserings. Ek het al spiere geskeur, ‘n rug- en enkelbeserings opgedoen, etlike stukkende lippe en seer kakebene asook gekneusde ribbes gehad. Ek het darem nog niks gebreek nie.

Tae kwon do is baie fisies so beserings kan tydens oefeninge ook opgedoen word en nie net tydens kompetisies nie, daarom is fiksheid en stamina van kardinale belang.”

Willem rig al sedert 2000 dié kontaksport af en bied van 2008 af klasse in Lydenburg aan.

MEER INLIGTING:

Daar is hoofsaaklik twee soorte tae kwon do feferasies naamlik die Internasionale Taedwondo Federasie (ITF) en die Wêreld Taekwondo Federasie (WTF).

WTF is ‘n die Olimpiese sport en konsentreer basies op sparring (hande en voete) en konsentreer meestal op skoppe tydens kompetisies.

Die ITF konsentreer op vorms, sparring (hande en voete), spesiale tegnieke, breekkrag en soms selfverdediging, afhangende van die soort kompetisie. Mense is geneig om die twee te verwar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button