Mooi loop, Johan en Poppie op die nuwe lewenspad
Na 'n loopbaan van 33 jaar in die onderwys het Hoërskool Lydenburg se gewilde hoof, Johan Loots weens gesondheidsheidsredes in Januarie op vroeë pensioen gegaan

LYDENBURG – “Elke ding het sy vaste tyd in hierdie wêreld, en wanneer dit tyd word om te groet, kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is en dat sy tydsberekening volmaak is,” só verwoord Johan sy aftrede.
Hy en sy vrou Poppie, of soos sy as tannie Poppie by die skool bekendgestaan het, het in die harte van die skoolgemeenskap en van die dorp gekruip.
Poppie het vanaf 1994 eers as administratiewe beampte en later as persoonlike assistent saam met Johan gewerk. Die feit dat sy by die skool en ook elke Saterdag langs die sportveld en ander aktiwiteite saam met hom was, het haar ‘n spesiale plek in die leerders se harte gegee.
“Die aanspreekvorm ‘tannie Poppie’ was die leerders se erkenning aan haar bydrae aan hulle. Hulle respek vir haar was legendaries. Sy het ‘n ongelooflike passie en liefde vir die leerders en gaan baie verlang,” vertel Johan.
Sy is deur talle ouers die mamma van Hoërskool Lydenburg se leerders genoem.
Die bekende gesig van Johan op die trekker met die grassnyer, waar hy sommige middae die rugbyvelde van die skool gesny het, sal menige Lydenburger bybly.
Die egpaar was reeds vanaf standerd nege ‘n paartjie en is in 1985 getroud. Hul dogter, Chanté is in 1991 gebore. Sy is tans ‘n fisioterapeut in Johannesburg.
Hy het in 2011 by Hoërskool Lydenburg die hoofskap by Thys Cronjé oorgeneem. “Dit was ‘n groot, maar positiewe uitdaging in my onderwysloopbaan. Die groot uitdaging was om gebalanseerde kinders op akademiese, sport-, kultuur-, leierskap- en vele ander terreine met kerngedrewe beginsels soos geloof, respek, liefde, passie, dissipline, spanwerk en doelgerigtheid te kweek.
“Die betrokkenheid van puik personeel van Hoërskool Lydenburg en die aktiewe ouergemeenskap se ondersteuning het gehelp om hierdie driehoek te voltooi, wat daartoe gelei het dat dat dié skool tans een van die drie toonaangewende akademiese skole in Mpumlanga is.”
Johan is in 1962 in Kimberley gebore waar sy pa ‘n onderwyser by Hoërskool Diamantveld was en sy ma ‘n sekretaresse. Hy voltooi matriek aan Potchefstroom Volkskool en sy BA (Ed) (hiervoor verwerf hy akademiese erekleure) en BEd-graad aan die die PU vir CHO (huidige Noordwes-Universiteit).
Ná hy sy diensplig voltooi het, begin sy onderwysloopbaan in 1988 by Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp. In 1993 word hy bevorder na departementshoof by Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark. Daarna volg ‘n departmentshoofpos in 1998 by HTS Carel de Wet ook in Vanderbijlpark. In 2004 word hy aangestel as skoolhoof van Hoërskool Volksrust en in April 2011 word hy as hoof van Hoërskool Lydenburg aangestel.
“Geskiedenis as skoolvak was en is my passie. Hierdie liefde het daartoe gelei dat ek op die PU vir CHO se geskiedeniskomitee gedien het en later ook op komitees wat die erfenis van dorpe beskerm. Ek is tans nog ‘n aktiewe lid van beide die Feredasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, ATKV en die Suid-Afrikaanse Genealogievereniging.”
Loots vertel dat een van sy groot hoogtepunte in sy loopbaan was om met die voormalige Mej. Wêreld, Rolene Strauss te kon werk terwyl hy hoof van Hoërskool Volksrust was. “Sy kon die balans van eerlikheid, nederigheid saam met begaafdheid en puik leierskap balanseer en was ‘n ware rolmodel vir leerders.”
Hy vertel dat hy op buitekurrikulêre gebied sy passie in atletiek, landloop en rugby kon uitleef. “Ek was bevoorreg om die Springbok-hokkie-atleet, Alwyn Myburg af te rig in die tyd wat ek aan Hoërskool Transvalia verbonde was,” vertel hy.
Johan het onder meer as voorsitter van die Mpumalanga Grootskole-rugbykomitee en as ondervoorsitter op die Mpumlanga Hoërskole-rugbykomitee gedien.
Gedurende sy tyd by Hoërskool Lydenburg het die skool groot welslae behaal soos ‘n 100 %-slaagsyfer oor baie jare, die groei op sportgebied, veral die prestasies in die Spur-bergfietsliga, die Noordvaal-netbalkompetisie en die o/16- en eerste rugbyspanne wat in 2018 in die Virseker-kwarteindstryd betrokke was.
Op kulturele gebied sonder hy veral die tweede plek wat die hoërskoolkoor in die nasionale Sing in Harmonie-kompetsie behaal het, uit.
Johan noem dat die lomp dissiplinêre prosesse wat op skole afgedwing word, die hoeveelheid veranderinge in die kurrikulum op akademiese terrein en die moeilike finansiële ondersteuningstelsels waar die Departement van Onderwys skole nie genoegsaam ondersteun nie, vir hom groot uitdagings ingehou het.
“Hoërskool Lydenburg is tans 98 jaar oud en die 100ste verjaardagvieringe wag op die skool in 2021. Ek glo daar gaan groot opgewondenheid en harde werk op almal wag tot en met die gebeurtenis.”
Weens sy hart se drastiese afname in funksie moes hy die stap tot aftrede neem. “My drievathartomleiding in 2000 het gevolg na ‘n hartaanval. Ek, Poppie en ons dogter, kon met die genade van die Here na die operasie tot nou 18 kwaliteitjare saam beleef.
“Die Here het vir my en Poppie die geleentheid gegee om in die vyf skole waarvan ons deel was, met sy pragkinders te werk. Ons kon as span die kinders dien en versorg met die passie wat hulle verdien.”
Nou wag ‘n volgende fase na aftrede op hulle. Die egpaar beplan om na Potchefstroom te verhuis en kwaliteittyd saam met mekaar te geniet.
“Dankie aan Poppie wat my in hierdie 33 jaar met hart en siel bygestaan het om my onderwysloopbaan ten volle uit te leef. Dankie aan elke kollega, leerder, ouer en vriend wat die pad saamgestap het.
“Ek wil die Here dank vir die geleentheid wat ek gehad het om met sy kinders te kon werk.”
Die twee beplan om alle mooi plekke in ons eie land te besoek en om ook met een reis Botswana en Namibië, die pragtige deel van suidelike Afrika, weer te kan sien.
