Laerskool Numbi vier verjaardag met pret vir leerlinge
Die skool is in 1957 met slegs 30 leerlinge geopen.
Laerskool Numbi het Vrydag hulle 62ste verjaardag gevier met ‘n dag propvol prettige aktiwiteiete.
Elke klas het die oggend ‘n koek versier waarvan almal daarna ‘n stukkie kon geniet.
Die kinders het aan sewe verskillende speletjies deelgeneem en het ook in ‘n colour run onder verfpoeier deurgeloop. Die dag het as fondsinsameling vir die skool gedien en die geld sal vir verbeteringe aan die terrein en geboue gebruik word.
Na die lekker baljaar het die leerlinge afgekoel deur onder die sproeiers deur te hardloop.
Laerskool Numbi het hulle dank uitgespreek teenoor al die borge wat die dag moontlik gemaak het, naamlik BUCO Hazyview, BB Feeds, Timbercity en Spur Steak Ranches.
Die skool is in 1957 met slegs 30 leerlinge geopen. Dit het toe Laerskool Kiepersol geheet en was op die terrein van die huidige Protea Hotel Hazyview. Die eerste waarnemende hoof was WN van Wyk. DA Oosthuizen is vanaf Januarie 1959 as voltydse hoof aangestel.
Toe die skool se leerlingtal tot 52 gegroei het, het ‘n watertekort op die perseel daartoe gelei dat dit op 28 Julie 1959 na ‘n perseel oorkant die Numbi Hotel, waar die Hazyview Polisiestasie tans is, verskuif het.
Die skool se naam is op 14 Augustus 1968 amptelik na Laerskool Numbi verander.
In die vroeë 1990’s het die leerlingtal tot 220 gegoei en is daar in Junie 1992 begin om nuwe skoolgeboue op te rig. Dit is in Augustus 1993 op die huidige terrein voltooi.
Sedertdien het die skool vele puik prestasies opgelewer. ‘n Rits skoolhoofde het ook sedert sy ontstaan hulle merk gelaat. André Coetzee is vanaf 8 Januarie 2007 die skoolhoof.
