Lebombo Fees gaan een vir die boeke wees!
Met ‘n nuwe naam en nuwe “look” kan Komatipoort se jaarlikse fees nie anders as om groot verwagtinge te skep nie.

Vanaf hierdie jaar word die voormalige Garnaalfees die Lebombo Fees en beloof ‘n program vol vermaak en pret 14 en 15 Junie 2019.
Die fees vier vanjaar sy 32ste bestaansjaar en dit was noodsaaklik om ‘n paar veranderings te maak om weer lewe in dié geleentheid te blaas.

Onderbergers kan uitsien na ‘n hele paar nuwe interessanthede, asook gunsteling tradisies, want die Onderbergers gaan op 14 en 15 Junie feesvier soos net hulle kan.
Hierdie jaar sal daar weer ‘n biertent wees, waar die manne kan uitspan terwyl die vrouens en kinders die verskeie stalletjies bekyk.
Plaaslike boerderye gaan op 15 Junie weereens aan die Piesangtros-kompetisie deelneem, waar hulle wedywer om te sien wie die swaarste piesangtrosse kan lewer en ondersteuners word genooi om dié geleentheid nie mis te loop nie.

Hierdie jaar verwelkom die Lebombo Fees vir Steve Hofmeyr, Andriette Norman, Martin Bester van Jacaranda FM, Dirk van der Westhuizen en Ampie op die AVS-verhoog. Plaaslike kunstenaars en groepe soos Backstage, The Other Side, Sanet, Chimoné, Phillip Nel en Misha Janson gaan ook feesgangers vermaak.

Die komitee span ook weer kragte saam met die VLU se Lebombovallei-tak om vir pensionarisse van 60 jaar en ouer ‘n heerlike gratis ete aan te bied op Vrydag, 14 Junie, om 13:00. Vir meer inligting oor die ete, as jy wil saam eet, help of ‘n bydrae lewer om die dag ekstra spesiaal te maak, skakel Melanie by 084 466 0220.

Die natuurbewaringstent het nog ‘n naam nodig en voorstelle is welkom. Die wenners van die naam-kompetisie sal twee toegangskaartjies ontvang.
Die tent sal die tuiste van verskeie diere soos ‘n jagluiperd en roofvoëls van Moholoholo Wildlife Rehabilitation Centre wees en Jackie Wolmarans van Paws ‘n Crawl sal ook diertjies vir ‘n opvoedkundige demonstrasie bring.

Die Ereveldwagters van Marlothpark gaan feesgangers inlig oor die bewaring van dié dorp se fauna en flora.
Die tent sal moonlik nog ‘n paar interessanthede huisves en feesgangers word aangepor om dit nie mis te loop nie.
Saterdagoggend, 15 Junie, bied Komatipoort Akademie die Selati Big 5 MTB fietsren en dit lok gewoonlik honderde fietsryers.
Daar is reeds meer as 60 stalletjies en stalletjiehouers is baie opgewonde oor die fees se nuwe gedaante. Mense wat nog plek vir hulle stalletjie wil bespreek aan Rochelle ‘n epos stuur na stalls.lebombofees@gmail.com.

Daar gaan ook ‘n spesiale groente- en vrugtestalletjie by die fees wees. Die komitee beoog om boere te nader vir hul gewasse, wat feesgangers gratis tydens die fees sal ontvang.
Die komitee beplan ook om in April en Mei ‘n lekker kuns en handewerk-werkswinkel te hou, waar hulle dekor vir die skou gaan maak.
Vir meer inligting, hou Corridor Gazette en die Lebombo Fees se Facebook-blad dop.
