Hoe lief is jy vir jou skool?
Die projek bestaan uit vyf aktiwiteite waaraan al die kleuterskole deelneem.

Hazyviewers kan uitsien na ‘n opwindende “Lief My Skool Projek” (LMSP) wat deur Exponus bestuur en bemark word.
Exponus is ‘n nuwe bemarkingsagentskap op die dorp en die projek dien as ‘n fondsinsameling vir Mickey Muis Kleuterskool.
Die projek bestaan uit vyf aktiwiteite waaraan al die kleuterskole deelneem en punte vir elke inskrywing of deelname verwerf om uiteindelik ‘n groot prys te wen.
Dié prys sluit R2 500 kontant, ‘n gazebo vir die skool, ses maande gratis digitale bemarking deur Exponus en die “Lief My Skool” wenbeker in.
Tydens elke aktiwiteit word daar ook verskeie pryse aan die wenners van die dag gegee, en punte aan hulle skole toegeken. Mickey Muis Kleuterskool gaan ook deelneem maar kan natuurlik nie die groot prys wen nie omdat die fondsinsameling vir hulle gehou word.
Beplande aktiwiteite sluit die volgende in:
‘n Pretletiekdag op 8 Junie; ‘n gholfdag op 3 Augustus; ‘n Fear Factor-pretdag op 7 Augustus; die Potmeester-potjiekoskompetisie en boeresportdag op 2 November, waarna die topvyfskole ook aangekondig sal word; en ‘n glansgeleentheid op 7 November waar die wenner aangekondig sal word.
Die aktiwiteite sal by verskillende plekke plaasvind en moontlik ook stalletjies en ander vermaak insluit. Die pretletiekdag word by Laerskool Numbi gehou en die gholfdag by Kruger Park Lodge.
Die Fear Factor-pretdag beloof heelwat opwinding. Maatskappye word uitgenooi om dié aktiwiteit as spanbou-oefening te gebruik.
Die Potmeester-potjiekoskompetisie, boeresport en ander geleenthede belowe om lekker familiedae te wees. Tydens die glansgeleentheid sal elk van die topvyfskole aan ‘n vermaaklikheidskonsert deelneem, waarna die wenner aangekondig sal word.
Navrae: Marina Joubert by 082- 639-8631.
