Voornemende Robbies gee gehoor aan oom Dawie se pleidooi
Verskeie uitstallings van buite was beskikbaar om loopbaangeleentheide aan voornemende leerlinge bekend te stel.
Oom Dawie gaan waarskynlik sy sin kry nadat honderde voornemende Robbies die afgelope Saterdag op Hoërskool Rob Ferreira toegesak het om te kom kyk wat dié skool hulle alles kan bied.
Prettige plakkate het dit reeds weke lank uitbasuin dat oom Dawie (die skoolhoof, Dawie Oberholzer) nuwe Robbies soek.
Belangstellendes het vroegoggend in die skoolsaal byeengekom waar Oberholzer hulle toegespreek het. Hy het die onderskeie akademiese rigtings en relevante inligting daaroor verduidelik en ook vertel wat potensiële leerlinge van Rob se koshuislewe kan verwag. Daarna is almal op ‘n toer deur die skool se fasiliteite geneem.
Verskeie uitstallings van buite was beskikbaar om loopbaangeleentheide aan voornemende leerlinge bekend te stel en stalletjies wat meer inligting oor die verskillende vakke uitgebeeld het, is deur onderwysers en leerlinge beman.
