Local newsNews

Inwoners maak self paaie skoon vir veiligheid

'n Man in die gemeenskap het dit op homself geneem om paaie skoon te kap vir die veiligheid van ander.

Johan Oosthuizen, ‘n inwoner van Aloe Ridge wat die agteruitgang van die gebied tydens sy verblyf hier aanskou het, het besluit om die ontbossing van die area te takel om dit veiliger te maak.

Wat hom gekwel het, was die bome en bosse wat oor die paaie groei en sig versper sodat motoriste mekaar nie om draaie kon sien nie.

Wat hom verder gehinder het is dat kinders in die strate baljaar en hulle nie sigbaar is wanneer ‘n motor om ‘n draai kom nie.

Oosthuizen is vroeër medies ongeskik verklaar en het besluit om ‘n verskil in sy gemeenskap te maak. Hy het met ‘n handsaag bome begin afsaag wat sig beperk. Sy fokuspunt in die begin was om skoon te kap waar die skoolbusse kinders aflaai.

“My vrou en kinders ry die paaie. Ek wil hê hulle moet veilig wees, so ek het dit ook vir hulle gedoen,” vertel Oosthuizen.

Sy buurman het intussen vir hom ‘n kettingsaag geleen wat sy werk nou baie vergemaklik.
Hy vertel dat talle mense hom al kom bedank het en selfs aangebied het om te help.

“‘n Taxibestuurder het eendag gestop en gehelp om ‘n groot boom af te saag. Vir hom wil ek net dankie sê,” vertel Oosthuizen.

Steelburger/Lydenburg Nuus het ook met twee ander inwoners van die buurt gepraat oor die toestand in die woongebied.

Suzette Ludick woon die afgelope 11 jaar hier. Die erf langs haar is toegegroei met bosse. “Dit is nie net ‘n veiligheidsrisiko nie, maar ook gevaarlik weens slange en ander gediertes wat hier kan skuil. Ek het al R650 betaal om ‘n erf langs my te laat skoonmaak. Dit behoort aan ‘n sakeman maar word nie onderhou nie.”

Sy vertel dat die bosse al so ver oor sommige paaie gegroei het dat daar slegs een baan oop is waar voertuie kan ry.

Shalana Viljoen woon twee jaar in Aloe Ridge. “‘n Erf reg langs ons huis is oorgroei. Almal gebruik dit om hulle vullis daar te stort. Dit stink vreeslik en daar is ‘n plaag van katte,” vertel Viljoen.

Inwoners doen ‘n beroep op die munisipaliteit om aandag aan hierdie probleme te gee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button