Local newsNews

Laurika Rauch en Chris Torr – Bloubloed Musikale Span

Innibos vanjaar vir Laurika en Chris as ’n kreatiewe span vir hulle weergalose bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Laurika Rauch, die koningin van die Afrikaanse ballade, span reeds vier dekades lank die kroon in dié domein, nadat die lied Kinders van die Wind in 1979 tegelykertyd die nommer-een-posisie op beide Radio 5 en Springbokradio se treffersparades beklee het. Sy het haar getroue ondersteuners nou reeds met 26 albums beloon en bekoor hulle steeds met haar onopgesmukte skoon en suiwer sang.

In 1984 trou Laurika met Christopher Torr, ’n ekonomiedosent. Chris, behendig met klavier en kitaar, het op daardie stadium nog nooit liedjies geskryf nie. Hy skryf toe Afrikaanse woorde vir ’n Udo Jürgens-lied en wys dit vir Laurika.

Die liedjie is Op Blouberg se Strand en dit word een van haar grootste treffers.

En so begin hulle magiese koetsrit saam deur die musiekkoninkryk. Teen hierdie tyd het Laurika reeds vyf albums uitgereik, waarvan twee goue status behaal het. Drie van Chris se liedjies, Op Blouberg se Strand, Miekie en Die Ballade van Jakob F de Beer word op haar sesde album Encore! Laurika (1988) ingesluit. Dit behaal ook goue status.

In 1990 veredel Chris Afrikaanse musiek met die komposisie Stuur groete aan Mannetjies Roux. Dit word die titelsnit van Laurika se sewende album en is ook die eerste Afrikaanse vroulike album wat op CD verskyn. Dit album bereik platinumstatus. Die 1992-album Die Gang se titelsnit, asook die lied Stille Waters daarop word deur Chris geskryf. Hot Gates (1995) spog met vier liedere deur Chris, onder andere die aangrypende titelsnit, ’n toonsetting van Hennie Aucamp se gedig Lippetaal deur Laurika, goue status, asook ’n Sama-toekenning. Die millennium word op ’n hoë noot afgesluit met twee albums: 19 Treffers van 21 Jaar (vier dubbele platinum-status) en Die Mense op die Bus (goue status). Die titelsnit van laasgenoemde is weer eens ’n komposisie deur Chris. Dit word ook gebruik as temalied vir die TV-reeks Iemand om lief te hê.

Sewe albums later is dit 2011 en die musiekspel Stuur groete aan Mannetjies Roux verskyn waarin Laurika optree.

Meer as 50 uitverkoopte vertonings speel in die vier hoofsentra van ons land en word almal met staande toejuiging afgesluit. Die rolprentweergawe met Anna-Mart van der Merwe en Ian Roberts as hoofspelers volg in 2013.

Laurika se jongste album Gunstelinge (2017) bevat vyf liedjies waarby Chris betrokke is as skrywer, medeskrywer of vertaler; onder andere ’n herverwerking van die gewilde Kyk hoe glinster die maan, waarvoor Chris Afrikaanse woorde geskryf het.

Die liedjie vorm ook deel van die klankbaan van die film Liewe Kersfeesvader wat in 2017 op die silwerdoek verskyn.

Wat toekennings betref, swaai Laurika die septer in die musiekwêreld. Sy is reeds agt keer vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek erken, onder andere deur Rapport en City Press, Huisgenoot en die FAK. Haar toekennings vir albums en optredes kan ’n skatkamer vul.

Meer onlangs (2017) ontvang sy ’n Ghoema vir haar album Die Reis, nog ’n Ghoema saam met Loki Rothman vir Luitoon van die Jaar vir die nuwe duetweergawe van die lied Blou en ’n toekenning vir lewenslange bydrae van Bokradio.

Soos almal weet, staan daar agter enige beroemde koningin ’n sterk, skugter en, in hierdie geval, musikale prins.

Daarom vereer Innibos vanjaar vir Laurika en Chris as ’n kreatiewe span vir hulle weergalose bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button