Rusplek vir die siel by nuwe Innibos-oases
Innibos-feesgangers met 'n voorliefde vir boeke en kuns kan uitsien na 'n rustige halte om sielskos te kry by die ATKV-Boeke-oase by die kultuursentrum van Hoërskool Nelspruit. 'n Splinternuwe Kuns-oase is ook geskep by die naasliggende kultuursentrum by Laerskool Nelspruit.

MBOMBELA – Die hoofkunsuitstalling, Inniblom, skuif van die gebruiklike Nelspruit Burgersentrum na dié nuwe venue.
Dit belig hoe kunswerke met ‘n blomtema een van die veelseggendste maniere is om gevoel oor te dra. Dit sluit kunstenaars soos Elise Buitendag, René Eloff, Georgina Gatrix, Nigel Mullins, Linda Pretorius, Griet van der Meulen en Lientjie Wessels in.
Daarby gee Hester Schoeman van die Loerietak van die VLU haar interpretasie van die kunswerke in ses blomrangskikkings.
Johan Stegman se grafiese werk onder die titel ‘n Goeie Dag vir ‘n Slag – A Blood River/Ncome Monument word ook hier uitgestal. Hy is op Vrydag 28 Junie om 11:00 by die Kuns-oase in gesprek met Johan Myburg oor dié uitstalling.
Beeldhouer Ruhan Janse van Rensburg gebruik die Walliese woord “Hiraeth”, wat ‘n heimwee beteken, om aan sy beeldhouwerke gestalte in die tuin van die Kuns-oase. Hy is op Donderdag 27 Junie om 11:00 by die Kuns-oase in gesprek met Myburg.
ClemenGold se jenewerstalletjie sal die kele lawe met ‘n jenewerproe elke dag om 13:00 saam met die Laeveldse kunstenaars Natascha C en Henry-John Williams.
Storievuur, met stories en musiek deur Dana Snyman en Mathys Roets, is die Woensdag om 18:00.
Bekende en geliefde skrywers verklap elke dag hul skryf- en ander geheime tydens die gratis boekgesprekke by die ATKV-Boeke-oase.
Die skrywers is Tony Park, Madelein Rust, Jeanette Fereirra, Elise Buitendag, Jan van Tonder en Nico Moolman.
