Twee sterf en een beseer in ongeluk
Ons seuntjie, Janru (2) soek sy pappa. Dit is moeilik vir hom.

LYDENBURG – Die gemeenskappe van Belfast en Dullstroom is in rou gedompel na ‘n ongeluk die lewe van Jaco de Beer (34) en Ruan Uys (12) geëis het.
Die ongeluk het by die aansluiting met die Vrede-pad in Standerton gebeur. Thys Uys, sy seun Ruan en Jaco was verlede Woensdag op pad na die Vrede-distrik om bulle te gaan koop.
Na wat verneem word wou hulle ook op Greylingstad, ‘n plekkie naby Standerton stop om daar ramme te kry.
Volgens Okkie van Schalkwyk, skoonpa van Jaco se vrou Monica, word hulle steeds met baie vrae gelaat na die ongeluk. “Soos ons verneem het, het ‘n beestrok net voor die afdraai na Vrede in hulle voertuig vasgery. Die trok is bo-oor hulle.”
Die twee mans en die seun was onder die trok vasgepen. Thys kon eers twee ure later uit die wrak bevry word en is na die Hoogland Hospitaal in Bethlehem gehaas. Hy het na wat verneem word ernstige beserings opgedoen wat gebreekte ribbes en verskeie sny- en kneusplekke insluit. Hy is steeds in die hospitaal.

Jaco en klein Ruan is op die toneel dood. Hy het op 18 Mei sy 12de verjaardag gevier en Jaco het op 4 April sy 34ste gevier. Jaco was passievol oor bosvarkjag en bekend vir sy jagvermoëns.
Monica het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat Jaco ‘n goeie hart gehad het. “Hy het altyd gehelp waar hy kan. Hy laat ‘n baie groot leemte. Ons seuntjie, Janru (2) soek sy pappa. Dit is moeilik vir hom.”
Volgens Monica kry hulle ongelooflik baie ondersteuning van familie en vriende, waarvoor hulle baie dankbaar is.
Die koerant het ook met Nico Uys, broer van Thys gesels. Nico is die voorsitter van die Dullstroom Boerevereniging en ook voorsitter van Dullstroom se gemeenskapspolisiëringsforum.
Volgens hom is Thys bewus van Ruan se dood. “Ruan sal onthou word as ‘n liewe kind wat lief was vir sport soos rugby, hokkie en perdry. Hy het ook uithouritte gedoen.”
Ruan was ‘n leerling van Belfast Akademie. Nico vertel dat Thys Maandag vanuit die intensiewesorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas is.
“Hy het ‘n bloedklont in sy regterbeen wat ons hoop opgelos sal word. Hy het ook nie gevoel in dié been nie.”
Jaco word oorleef deur Monica en sy seuntjie Janru. Ruan word oorleef deur sy pa Thys, sy ma Yvette en tweelingsussies Ammy en Ashley.
Jaco se begrafnis vind voorlopig op 7 Junie om 11:00 vanuit die NG Kerk in Belfast plaas. Die familie wag nog op Monica se broer om vanuit Kanada te arriveer vir die begrafnis.
Ruan word eerskomende Saterdag om 11:00 op die familieplaas, Elandskloof ter ruste gelê. Die twee gesinne het ingestem om die storie in die koerant te deel omdat die dorpe na aan mekaar geleë is en die inwoners bekend is aan Lydenburgers.
