Vuur en vlam in die warm hart van die Laeveld!
Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is vuur en vlam om in sy sestiende feesjaar die kreatiewe vure weer hoog te laat brand met ’n familiefees vir almal van speenoud tot beenoud.

Die fees is 26 tot 29 Junie by Bergvlam Hoërskool in Mbombela (Nelspruit).
Elke kunsgenre, onder meer musiekteater, toneel, boeke en visuele kuns vind sy staanplek by dié fees wat vroeër vanjaar vir die vierde keer aangewys is as kykNet Fiësta se Fees van die jaar.

Onder die talle hoogtepunte is elke aand se konsert op die hoofverhoog op die kuierveld van die feesterrein. Dit is volwaardige musiekproduksies wat duisende feesgangers lok, en verlede jaar se Saterdagaand-konsert het ook ’n Fiësta-toekenning ingepalm as die beste buitelugkonsert vir 2018.
Die immergewilde Bosmôl – wat jaarliks opgedollie word volgens die feestema – is waar jy kan kyk en koop, en vanjaar is daar weer talle nuwe stalletjies met gehalte produkte waarin feesgangers hulle kan verlustig. Baie van die produkte is nie in winkels beskikbaar nie en spreek van hope kreatiwiteit, wat dit juis so eiesoortig maak.

Die kunspark is vanjaar in ’n nuwe baadjie getooi en dié hele area sal in ’n gesellige kuierplek omskep word. Topvermaak word op die KMIAirport-kuierverhoog aangebied, en dit is ook hier waar jy aan ’n groot verskeidenheid craft-drankie kan proe.

Kaartjieverkope het ’n maand vroeër as vorige jare geopen om mense langer tyd te gee om hul feesbegrotings te laat klop. Kaartjiepryse is ook nie verhoog nie, en is presies dieselfde as verlede jaar.

Daar is ook ’n spesiale Combo-afslagkaartjie vir Woensdag, 26 Junie, en Donderdag, 27 Junie, teen slegs R180 pleks van die volle bedrag van R240 vir dié twee dae. Pensioenarisse betaal slegs R50 toegang op Woensdag, 26 Junie, en talle spesiale aanbiedinge word op dié “kieriedag” vir hulle beplan.

Vir die jong tieners, oftewel tweeners, is daar ook ’n spesiale partytjie Woensdagaand by die kykNet Nou! Rock Gigs waar ouers hulle met ’n geruste kan laat jol danksy die beleid van geen alkohol en streng toegangsbeheer om ’n veilige ruimte te waarborg.

Die visuele kunste kry vanjaar ’n nuwe tuiste in die Kuns-oase in die nuutgeboude kultuursentrum van Laerskool Nelspruit. Die hoofkunsuitstalling, Inniblom, skuif van die gebruiklike Nelspruit Burgersentrum na dié nuwe venue. Inniblom belig die konteks waarin kunswerke met ’n blomtema as een van die veelseggendste maniere gebruik is om gevoel oor te dra. In dié uitstalling is dit kunstenaars soos Elise Buitendag, René Eloff, Georgina Gatrix, Nigel Mullins, Linda Pretorius, Griet van der Meulen en Lientjie Wessels wat jou vir ʼn oomblik dié wêreld bied.

Die ATKV-Boeke-oase by die naasliggende Hoërskool Nelspruit is dié feesplek is vir boekliefhebbers. Die baie gewilde Kinder Storie-krôl word twee keer daagliks aangebied, en hier kry die jongspan kans om hul verbeelding op loop te sit in die “storiedorp” waar boekkarakters lewe kry.

Buiten die boekgesprekke met bekende skrywers, is daar elke middag ’n gesprekreeks oor aktuele sake onder leiding van Theo Vorster. RSG saai ook daagliks van die ATKV-Boeke-oase uit.

Om die Laeveld Botaniese Tuin se 50ste bestaansjaar saam met hulle te vier, word die Chelsea Blommeskou se uitstalling na die Laeveld gebring tydens Innibos. Leon Kluge, ’n gebore en getoë Laevelder, is die meesterbrein van dié uitstalling wat vir die 37ste keer ’n goue medalje ingepalm het in Brittanje.
Innibos vereer ook jaarliks kunstenaars wat ’n besondere bydrae tot die kuns bedryf lewer. Vanjaar word Laurika Rauch en haar man, Christopher Torr, as ’n kreatiewe span vereer vir hulle weergalose bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Die fees skop Woensdag om 10:00 af met ’n kleurvolle Kuns-in-beweging-parade deur die strate van Mbombela. Kom fees saam, en wees vuur en vlam vir die kunste in al sy gedaantes, vir alle ouderdomme!






