NewsSchools

Nuwe avontuur wag op onnie

“Dit is nooit maklik om afskeid te neem nie, maar dit is deel van grootword,” het Hugo vertel.

MBOMBELA – Vir JP Hugo is sy nuwe pos as adjunkhoof by Nelspruit Primary bittersoet. “Ek voel met twee harte. Aan die een kant is ek hartseer dat ek moet weggaan, maar aan die ander kant is ek regtig opgewonde oor dit wat kom.”

Hugo was voorheen departementshoof van skooldissipline en veiligheid asook ‘n gr. 7-wiskundeonderwyser by Laerskool Laeveld, voordat hy verlede Maandag in sy nuwe posisie as adjunkhoof vir die seniorfase by Primary begin het. “Dit is nooit maklik om afskeid te neem nie, maar dit is deel van grootword,” het Hugo vertel.

Kirsten en JP Hugo toe hy verlede jaar sy doktorsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.

Laevelder het voorheen berig dat Hugo verlede jaar sy doktorsgraad in opvoedkunde verwerf het met die tema, “Die ontwikkeling en implementering van mentorskap van jong opvoeders”.

LEES OOK: Vuur en vlam in die warm hart van die Laeveld!

Hy is opgewonde om dit wat hy gedurende sy navorsing geleer het, nou prakties by sy nuwe skool toe te pas. “Dit gaan vir my daaroor om die jong onderwysers in hul nuwe omgewing by te staan en vir hulle die moets en moenies van die beroep te leer.”

JP Hugo het ook ‘n groot passie gehad om sport af te rig.

Volgens Hugo is sy grootste nalentskap by Laerskool Laeveld die sisteme wat hy in plek gestel het, soos ‘n nuwe dissiplinêre sisteem wat hy gehelp het om op die been te bring. Volgens Laerskool Laeveld se hoof, Theo Krüger, is hul verlies beslis Nelspruit Primary se wins. “Hy het groot waarde toegevoeg en gaan beslis gemis word.”

LEES OOK: Meer as 200 sien kans vir die Mac Mac Ultra

Krüger onthou hoe Hugo en die skool se adjunkhoof, Neil Jacobs, een maal ‘n tent in sy kantoor opgeslaan het. “Die oggend toe ek my kantoordeur oopmaak, toe sit die twee in hul tent en speel bosgeluide oor YouTube en braai ‘n malvalekker oor ‘n kers,” vertel Krüger laggend. “Hy is ferm, maar het ‘n ongelooflike humorsin.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button