Woord en lief bekoor crawlers
Die digterlike woord gee die toon aan by vanjaar se immergewilde Innibos Boeke-crawl op Kaapsehoop.

MBOMBELA – Oudergewoonte word daar van die een venue na ‘n ander op die atmosfeerryke bergdorp ge-crawl. Eerste aan die beurt is die aktrise en woordkunstenaar, Elsabé Daneel wat kragte saamsnoer met die Kaapse musikant Wilken Calitz om gunsteling-gedigte musikaal te laat opklink. Klanke word op die verhoog opgedis, opgeneem, verwerk, ge-loop en dan vermeng met voordrag om die verse te laat klink soos dit nog nooit gehoor is nie.

Volgende is bekroonde en geliefde skrywer Riana Scheepers wat uit haar werk gaan voorlees. Scheepers se verhale het dikwels ‘n sensualiteit wat ‘n mens lank bybly. Saam met haar is die musiekkunstenaar Helena Hettema, bekend vir haar gevoelvolle optredes.
Akteurspaar Waldemar Schultz en Ira Blankenberg bring die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte byeen om ‘n verhaal te vertel van liefde verloor en gewen, hartstog, vreugde en herinnering. Dié roerende vertoning beloof om niemand onaangeraak te laat nie, want in die woorde van I D du Plessis: “Die liefde neem ‘n duisend vorme aan”.

Nog ‘n vlagskipwoordproduksie is Woorde Innituin by Suikerbossie-teetuin waar daar met woord en lied gekuier word. Vanjaar laat Scheepers in samewerking met die musiekpaar Coffee Snobs die kollig val op tradisionele digterlike vorme wat musikaal verwerk is.
Die genres wat getoonset en gesing word, is onder meer die enigmatiese pantoen, ‘n sensuele hooglied, ‘n meesleurende wiegelied en ‘n broeiende villanelle – en vir afwisseling, ‘n tranetrekkende smartlap en ‘n outentieke Kaapse moppie. Donkernagpantoen bewys dat hierdie “argaïese” digvorme steeds vars, modern en vonkelend is – en by uitstek geskik om gesing te word.

Elma Potgieter, veteraanaktrise en woordekunstenaar, is die programleier.
Die kaartjiepryse vir die Boeke-crawl op Donderdag 27 Junie, sowel as Woorde Innituin op Vrydag 28 Junie, sluit ‘n ligte ete en wyn in.
