
MBOMBELA – Die nuwe adjunkhoof, Bertus Steyn wat Saterdag amptelik by Hoërskool Nelspruit (NHS) verwelkom is, gaan beslis ‘n groot aanwins vir die skool wees. Hy is oorspronklik van Johannesburg afkomstig waar hy aan Hoërskool Linden gematrikuleer het.
Nadat hy sy honneurs in geografie, omgewingsbestuur en ontwikkelingstudies aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf het, byt die reisgogga en vertrek hy vir twee jaar Engeland toe. Na aanleiding hiervan verwerf hy sy MA-graad in geografiese inligtingstelsels, analise en besluitneming aan die Universiteit van Stellenbosch.
LEES OOK: Poging tot moord: vrou kry vyf jaar
Sy verblyf in Engeland is verleng na 13 jaar waar hy onder andere vir Redden Court School gewerk het. Hy vertel van sy ervarings in Engeland: “Uit my buitelandse en vorige ondervinding het ek besef dat my sterk punte beslis in inligtingstegnologie lê, wat ek sal probeer terugploeg by NHS.

“Hoogtepunte van my loopbaan is die leerskool van Engeland en die ervarings wat die land en skole daar vir my gebied het, asook die blootstelling aan tegnologie en die geleenthede om binne die onderwys te groei op bestuursvlak.
“Verder is daar ander dinge ook, hoewel baie meer sosiaal van aard, maar hoogte-punte nietemin, onder andere hoe maklik dit is om te reis. Ek mis ook die vinnige internetspoed en betroubare posdiens van die Eerste Wêreld.”
Die nuwe adjunkhoof beskryf homself as ‘n blue sky thinker en vertel dat sy denkswyse hom blootstel aan nuwe idees en aanmoedig om nuwe dinge te probeer om sukses te behaal.

Hy vertel dat sy verwelkoming by die skool hom soos een van die personeel laat voel het.
“Ek is hartlik en warm ontvang by die skool asof ek nie voorheen iewers anders was nie.”
Steyn vertel ook dat die Laeveld met al sy natuurskoon soos die Nasionale Krugerwildtuin vir hom altyd ‘n droom was. Sy aankoms hier en op die skool is ‘n bevestiging dat NHS die regte plek is om onderwys te gee.
LEES OOK: Hairdresser tangled in alleged theft in Mbombela
Sy vrou Elsabé en hul kinders Shawnte (4) en Teaghan (3) sal in Desember by hom aansluit. Die nuwe adjunkhoof was die laaste sewe jaar in Middelburg gevestig.
Hy sê oor die Laeveld: “Dit is vir ons ‘n ongelooflike voorreg en seën om in die Laeveld te wees. Dit is iets waaroor ons baie gebid het en ons wil graag in God se wil leef.
“Dit was gelukkig nie moeilik om die besluit te neem om Laeveld toe te trek nie siende dat dit vir ons ‘n nuwe wêreld met nuwe uitdagings en geleenthede bied.”
