AdvertorialBusinessLocal newsNewsNews

Hannes keer na 25 jaar terug na die verhoog

'Sê Groete Vir Ma' debuteer hierdie maand by Innibos.

Hannes van Wyk is vanjaar vir die eerste keer in 25 jaar terug op die verhoog.

Sê Groete Vir Ma is ‘n splinternuwe stuk uit die pen van aktrise Desiré Gardner.

Die eenmanstuk debuteer later vandeesmaand by Innibos, met niemand minder as Sandra Prinsloo wat die regie behartig.

Van Wyk is beter bekend as Kwêla-aanbieder en kuier weekliks in kykers se sitkamers.

In Sê Groete Vir Ma vertolk hy die rol van Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe, menswees en bestaan om die een vrou wie hom in die lewe gebring het, draai.

Dit vertel die storie van die vormingsjare van ‘n sensitiewe kind wat op ‘n plaas moet grootword en die dinge van manwees en manword gou moet kop.

Daar is ook Reghardt se pa, sy nie-so-slim broer Dewaldt, asook sy veerpoothoender, Knoop, wat hom van die dood geleer het.

Dit is ‘n storie vir elke lid van die gesin en beloof om te sorg vir humor, maar ook lag met ‘n traan. Sê Groete Vir Ma verken die band tussen ‘n ma en haar kind, hul lewensreis saam, en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is.

Dis ‘n tipe knop-in-die-keel-, tong-in-die-kieskykie na die dinge waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die ewige getik-tok van die klok wat niemand die aardigheid van oudword (en dan ook siekte) spaar nie.

Elkeen wat ‘n ma het, gehad het of sélf ‘n ma is, moet hierdie langverwagte teaterstuk sien.

Sê Groete Vir Ma word elke dag by Laerskool Bergland opgevoer.

Speltye is Woensdag 26 Junie om 18:00, Donderdag 27 Junie om 10:00, Vrydag 28 Junie om 19:00 en Saterdag 29 Junie om 09:00.

Kaartjies vir die produksie beloop R132.

Van Wyk is ook boonop elke dag van die fees by die Boma-kuierteater te sien waar hy die Kwêla-gespreksreeks lei. Hy sal elke dag om 14:00 met van die grootste name in die vermaaklikheidsbedryf gesprekke voer oor wat agter die skerms in hul loopbane gebeur.

Die volledige program is beskikbaar by lowvelder.co.za en kaartjies is te koop by Computicket.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button