Egpaar vier diamantbruilof
Het sy dan nog nooit moeg geraak vir die oom nie? “Ek sal nou nie lieg nie...”

LYDENBURG – Op 6 Junie is oom Henry en tannie Bets Language ‘n allemintige 60 jaar getroud. Die egpaar het reggekry wat deesdae beskou word as ‘n skaarsheid.
Marietjie Language, skoondogter van die egpaar het die koerant laat weet van die wonderlike mylpaal om hul diamantbruilof te kon vier. “Hulle is langer getroud met mekaar as wat ek lewe,” vertel sy.
Steelburger/Lydenburg Nuus het gaan kers opsteek by die twee om uit te vind hoe hulle dit reggekry het. Volgens tannie Bets is dit net genade van bo dat hulle die mylpaal behaal het. “Ons is baie geseënd om nog gesond te wees. Vir ons ouderdom, geniet ons nog goeie gesondheid. Dit is net die Here se genade.”
Maar wat is die geheim tot ‘n gelukkige huwelik? Volgens tannie Bets is dit geduld. “Baie geduld,” lag sy. Het sy dan nog nooit moeg geraak vir die oom nie? “Ek sal nou nie lieg nie…”
Die Language-egpaar het mekaar op plaaslike bodem ontmoet en sedertdien was daar nie terugdraaikans nie. Hulle is aan mekaar voorgestel deur ‘n vriend wat saam met tannie Bets korfbal gespeel het. Sy het destyds by ‘n plaaslike prokureur gewerk en oom Henry het in Steelpoort geboer.
Hulle het in 1958 verloof geraak en is ‘n jaar later getroud. Die paartjie het die goue bruilofsjare met ‘n hele dekade oorskry. ‘n Paartjie vier hul goue bruilof wanneer hulle 50 jaar getroud is.
Die idee van ‘n “goue” bruilof hou verband met tradisionele geskenke wat paartjies oor die eeue heen tydens hul huweliksherdenking uitruil. Die tradisionele geskenk wat paartjies wat 50 jaar getroud is aanmekaar gee, is ‘n geskenk wat van goud gemaak is.
Steelburger/Lydenburg Nuus wens die Language-egpaar baie geluk met hulle uitsonderlike prestasie.
Volgens about.com is die tradisionele huweliksherdenkingsgeskenke as volg
• Een tot 15 jaar: Eerste huweliksherdenking: Papier; tweede: katoen, derde: leer, vierde: vrugte of blomme, vyfde: hout, sesde: yster of lekkergoed, sewende: wol of koper, agtste: brons of potklei, negende: potklei of wilger, 10de: blik of alluminium, 11de: staal, 12de: satyn of linne, 13de: kant, 14de: ivoor, 15de: kristal
• 20 tot 75 jaar: 20ste: porselein, 25ste: silwer, 30ste: pêrel, 40ste: robyn, 45ste: saffier, 50ste: goud, 55ste: smarag, 60ste: geel diamant, 75ste: diamant.
