
Ná ‘n aanvanklike trae 15 minute sedert die wedstryd afgeskop het, het die Rooikatte se eerstes bra lusteloos voorgekom, maar kort daarna het hulle weer vlam gevat en vir ‘n drieëfees teen Malelane Rugbyklub gesorg.

Die wedstryd het Saterdag op Rooikatpark plaasgevind waar die Katte met 41-10 oor die Malelaners geseëvier het.
Drieë vir die Rooikatte is deur Johan Reinecke, Innocent Masinga, Ruhan Bouwer, Marius Albreght en Julius Ackermann (tweemaal) gedruk. Riekert Kleynhans en Ruhan Bouwer slaag elk met twee doelskoppe terwyl Bouwer ook ‘n strafskop oor die pale geklits het.

Die voorspeler van die wedstryd was Bouwer en agterspeler Ackermann.
Die Rooikatte se eerste span is tans derde op die ligapunteleer in die Phakisa-hoofliga en die tweede span vyfde in die Phakisa-reserweliga.Volgens Riaan Schoeman, afrigter, doen die klub baie goed onder omstandighede, as daar in ag geneem word dat die eerste span vanjaar 11 spelers verloor het en van vooraf moes opbou.

“Daar is nog vyf ligawedstryde oor waarvan drie tuis gespeel gaan word. Ons doelwit vir die jaar is om ten minste vir die semifinale te kwalifiseer. Albei spanne is nog sterk in die wedloop.”
