
MBOMBELA – Wat sal jy doen as die ideale weergawe van jouself eendag by die deur instap? Dít is waarin Nagskofkliek grawe. Dit en die bokse goed wat mense stoor, sonder om dit weg te gooi of ooit weer oop te maak…
Nagskofkliek-skrywer Retief Scholtz (34) sê beide hierdie dinge was sy inspirasie vir hierdie komiese drama. Dit maak môreoggend sy debuut op die planke by Innibos.
Kortliks werk Hans (Melt Sieberhagen) as ‘n veiligheidswag by ‘n bergingsfasiliteit. Dan daag ene “Man” (Albert Pretorius) op en die poppe begin dans.

“Dit is gegrond op twee verskillende gedagtes,” sê Scholtz. “Stoorpakkamers fassineer my. Ons stoor dinge wat ons nie nodig het nie, maar hou dit tog. Wat bêre ons en hoekom bêre ons dit – soms vir altyd, maar ons haal dit nooit weer uit nie.
“Dit gaan ook oor spyt – ons wens dat ons eerder dít of dát gedoen het, en meer perfek kon wees.”
So wat gebeur as jou ware self, die mens wat jy dink die beter “jy” is, ontmoet?

“Jy kry die geleentheid om met hom te praat. Wat sal gebeur?” vra Scholtz in Nagskofkliek. “Kom ons krap in bokse en in onsself en kyk wat uitkom.”
Die kinkel is wat gebeur wanneer dit te moeilik raak as ons in onsself begin krap en dit seer raak? Ons bou ‘n muur daarom – maar wat gebeur dan?
Gestoorde bokse is nie al wat Scholtz ontgin nie: hy draai ook die akteurs se rolle om. Pretorius is meer bekend vir sy werk in dramas en Sieberhagen as ‘n komediant.
In Nagskofkliek speel beide rolle wat anders is as waaraan gehore gewoond geraak het.
LEES OOK: ‘Non met vakansie’-toneelstuk kan nie misgeloop word nie
Sieberhagen is goeie vriende met die skrywer.
“‘n Rukkie terug, in Liewe Kersfeesvader, het hy ‘n klein rolletjie, van Blikkies, so goed gespeel dat jy eintlik wil weet wat met die karakter gebeur.
“Hy wou ‘n karakter vertolk wat nie noodwendig net snaaks is nie. Toe besluit ons om dit saam te doen.”
Pretorius is weer beter bekend vir sy teaterwerk en dramarolle, maar vertolk ‘n meer komiese rol in Nagskofkliek. “Dit is altyd vir my lekker om dinge op sy kop te draai en akteurs uit te daag,” vertel Schotlz.
Waar is Scholtz se gemaksone? “Ek dink ek is gemaklik agter my rekenaar waar daar nie te veel mense is nie,” lag hy.
“As ek ongemaklik raak met ‘n spesifieke ding, as ‘n onderwerp my ongemaklik maak, gaan ek self daar – as skrywer en skepper, as ons net gemaklik is wat probeer ons bereik?”
- Is jy braaf genoeg vir Nagskofkliek? Dit open Woensdag om 10:00 en speel ook Donderdag om 16:00, Vrydag om 09:00 en Saterdag om 14:00.
Die fees skop amptelik môre af, maar verskeie produksies debuteer reeds vandag.
Die volledige feesprogram is hier beskikbaar, en kaartjies by Computicket.
