Wildevy skop op ‘n hoë noot af
Die Wildevy-komitee het die 2019 fees Woensdagaand amptelik met 'n jaarlikse eksklusiewe spitbraai afgeskop.

Borge is genooi om ‘n heerlike aand van kuier, geselligheid en geurige kos te geniet. Komiteelid, Willem Montgomery het van die geleentheid gebruik gemaak om die borge te herinner aan wat hierdie fees so spesiaal maak, en wat met befondsing gedoen word.

Hy het beklemtoon dat die Wildevy 4×4 Gesinsdag nie net ‘n klomp manne bymekaar is wat van kuier hou nie. “Ons is ‘n groep mense met ‘n hart vir die gemeenskap en diegene wat minderbevoorreg is,” het Montgomery gesê.

Die Wildevy wat meestal bekend staan vir die modderbaan, het egter oor tyd uitgebrei. Die Wildevy-manne beloof hierdie jaar net meer pret en plesier. Onder andere is daar ‘n bergfietsroete, ‘n bergroete vir diegene wat nie hulle voertuie wil vuil maak nie, ‘n pretdraf en nog vele meer.

Wat belangrik is, is dat die publiek moet weet dat alle fondse wat ingesamel word, vir liefdadigheid gaan. Die organisasie skenk op ‘n gereelde basis aan onder andere Lydenburg Rusoord, Wenakker, verskeie skole en talle ander organisasies wat finansieel sukkel.

Die Wildevy-manne het hul borge vanjaar weer behoorlik bedank. Daar was ‘n heerlike skaap op die spit met ‘n verskeidenheid bykosse. Mense kon hulle om die boma’s skaar om ‘n bietjie hitte op te soek en lekker te gesels.
Hou gerus die koerant dop vir verdere inligting oor die Wildevy Gesinsdag.
