Wyn, vrou en lied besing
Plofbaar, passievol, opwindend… Wanneer ‘n legendariese literêre kabaret wat só beskryf word ‘n Innibos-produksie inspireer, wil ‘n mens dit rustig saam met ‘n glas wyn geniet.
Danksy Byerskloof, Christo Snyman en Johan Rademan kan jy presies dit doen tydens vanjaar se fees.
Die Wyn. Die Vrou. Die Lied. Hierdie produksie is geïnspireer deur Hennie Aucamp se Met Permissie Gesê, die eerste vollengte kabaret in Suid-Afrika wat in 1980 deur Aucamp geskryf is, asook Wine, Women and Song. Dit sal diep siele bevredig, bekoor en verwen met pragtige en aangrypende sang, verse en uitsoekwyn.
Rademan, ‘n bekende Suid-Afrikaanse radiopersoonlikheid, gaan digkunsmaestros se werke voordra en tussen-in lekker gesels.
Snyman deel met hom die podium en sal met sang en kitaar gehoorlede se harte en siele verower.
Byers Truter sal, terwyl feesgangers lekker wyn proe, sy kennis van heerlike Beyerskloofwyne deel. Die Wyn. Die Vrou. Die Lied. speel Vrydag om 18:00 en Saterdag om 12:00 by Nelspruit Hoërskool se seunskoshuis. Geen o/18’s. Prys: R152.
