Local newsNews

’n Uitstalling van nasionale gehalte

Laat ek begin deur te sê die nuwe tuiste van Innibos se hoofkunsuitstalling by Nelspruit Laerskool se kultuursentrum is ‘n aangename vernuwing.

Besoek die nuwe Kuns-oase in die dag en geniet die natuurlike lig op die werk – ‘n drieluik van uiteenlopende uitstallings, rug aan rug. Wat eerstens opval, is die hoofuitstalling van blomstudies keurig bymekaargesit deur Innibos se kunskurator, Johan Myburg, wat verlede jaar ook vir ‘n uitskende groepsuitstalling van Suid-Afrikaanse landskapskilders gesorg het.

Die groepsuitstalling van blommestudies word nog meer intiem gemaak deurdat dit talle gevestigde kunstenaars uit eie bodem insluit: René Elof, Griet van der Meulen en Elise Buitendag. Daar is ook werk van onder meer die veelsydige Lientjie Wessels en Mariaan Swaan, Nigel Mullins, Georgina Gatrix en Linda Pretorius.

Ruhan Janse van Rensburg

Soos ’n mens met blomstudies verwag, is die werk onpretensieus maar nie altyd so eenvoudig nie, soos Van der Meulen wys met haar waterverf op papier. Tegnies vind ek al die werk uitstekend en is hierdie gewis ‘n uitstalling van nasionale gehalte – anders as ‘n klompie skilderye met blomme as tema uit die voorstede.

René Elof

Daar is ook ‘n interessante versameling beelde in brons deur Ruhan Janse van Rensburg. Hierdie is ‘n visuele vermenging van die superrealisme met absurde elemente, allermins ornamenteel. Hieroor skryf Myburg in sy notas rondom die uitstalling: dit is die gevoel wat die Duitsers “sehnsucht” noem en wat binne die sielkunde gebruik word as aanduiding van gedagtes en gevoelens oor aspekte van die lewe wat onvoltooid en onvolmaak is – en wat saamhang met die hunkering na die alternatiewe.”

Elise Buitendag

Derdens is daar Johan Stegmann, duidelik met ‘n lewendige belangstelling in die geskiedenis. Tegnies is sy werk uitstekend. Speels – maar dit laat ’n mens nie sonder die soeke na sy mening nie en jy weet dit skuil slim in sy werk.

Om dit te ontrafel is dit raadsaam om Vrydag om 11:00 te kom luister na ‘n gesprek tussen Myburg en die kunstenaar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button