Gastehuis vier 20 jaar in idilliese bergdorpie
Buitekant was die nag yskoud, maar binne in die ruim eetkamer van Kaapsche Hoop Gastehuis is daar op Vrydagaand 21 Junie gesellig gekuier om tafels propvol heerlike eetgoed en keurige wyn.
KAAPSEHOOP – Die kaggelvuur wat bly knetter het, het die nodige hitte verskaf.
Dit was tyd om die eienaars, Neels en Ria Bothma, se 20 jaar lange betrokkenheid by hierdie besigheid op ‘n feestelike wyse te gedenk.
Neels, wat in die Laeveld grootgeword het, was maar alte bewus van die mooi bergdorp wat eens op ‘n tyd die blyplek van honderde hoopvolle goudsoekers was.
In 1997, kort nadat die teerpad vanaf Nelspruit na Ngodwana voltooi is, het Neels op die N4 verbygery Komatipoort toe.
Kom ek gaan wys jou gou die mooiste ou dorpie hier bo teen die rant,” het hy vir sy vennoot gesê en van voor af verlief geraak op die plek.
In 1999 het Neels en Ria kom kyk na ‘n erf wat te koop was en verby die gebou gery waar daar toe ‘n kuierplek, The Wild Horse Canteen was.
Die “te koop”-bordjie voor die gebou het dadelik hulle oog gevang.
Op 1 Julie dieselfde jaar het Neels en ‘n vennoot voor die gebou stilgehou met die nodige bougereedskap – gereed om die ou Wild Horse Canteen in ‘n konferensiefasiliteit te omskep.
Vandag bied Kaapsche Hoop Gastehuis viersterverblyf aan talle sakelui, maar ook besoekers van regoor die wêreld wat die rustigheid, natuurskoon en wilde perde van Kaapsehoop wil beleef.
Daar is 13 luukse en-suite kamers wat vir almal wat hier kom bly, om die ou cliché te gebruik, ‘n tuiste weg van die huis bied. Ria vertel dat hierdie 20 jaar ‘n wonderlike reis was waarin daar hard gewerk en gebou is.
Jy weet,” sê sy dan, “Hierdie was eens op ‘n tyd die grootste perdestal op Kaapsehoop. Dit is in 1971 as ‘n woonhuis gebou maar het vir baie lank leeg gestaan en die perde het toe hier oornag. Nadat ons dit in 1999 gekoop het, het ons dit vir ‘n hele aantal jare as ‘n restaurant en konferensiefasiliteit bedryf. Ons het steeds bly droom om iewers ‘n gastehuis te koop. Ons het die Oos-Kaap platgery op soek na die regte plek en toe ek en Neels onverrigtersake terugkeer, het ons op die agterdek gaan sit.
“Hoekom omskep ons nie hierdie gebou in ‘n gastehuis nie? Hier is alles waarvoor jy kan vra: vrede, natuurskoon en wonderlike mense, het dit ons getref. In Januarie 2007 het ons die restaurant gesluit en het die bouwerk begin. Eers het ons net sewe kamers gehad, maar nou is daar 13, elk met DStv, ‘n minikroeg en privaatingang. Hier is ‘n kontantkroeg en Ons buffetontbyt is nie net vir oornaggaste nie en enigeen is welkom om te laat weet as hulle hier wil kom aansit.”
Die bekwame span wat hier aan die stuur is, maak dit vir Neels en Ria maklik om te reis of sommer vir drie maande by hul dogter in Michigan te gaan kuier.
Susan Morris is die gastehuisbestuurder wat sorg dat alles glad verloop.
Chanté McLean werk sedert Junie 2018 as hoofsjef. Olga Lukele, wat in 1999 by Kaapsche Hoop Gastehuis begin werk het as skoonmaker, is deesdae ‘n voorslag in die kombuis – die koningin van omelette.
Vir Ria en Neels bly daar net een droom oor: om te handhaaf wat hulle hier gebou het. “Ons wil nooit hier weggaan nie, dit is die heel beste plek op aarde,” sê die twee terwyl die wilde perde wei-wei voor in die pad afstap. Besoek kaapsehoopguesthouse.co.za of skakel 013-734-4161.
