Gesoute klerk lê na 47 jaar die tuig neer
“Die beste ervaring van my loopbaan was om mense uit ander dorpe soos KaNyamazane en Matsulu te kon help met kwessies oor onder andere hul erwe."

MBOMBELA – Daar is bitter min mense in die dorp wat die ensiklopediese kennis besit aangaande amptelike dokumentasie en korrespondensie uit die munisipalitiet soos Magda van der Waal. Sy is immers sedert 1973 by die stadsaal werksaam. Die 64-jarige vertel hoe sy pas na haar matriekjaar in die rekordsafdeling aangestel is en dat sy sedertdien onder sowat 10 burgemeesters gedien het.
Sy sê: “Toe ek jonk was, was daar nie ‘n ding soos verder studeer nie, en my ouers het my vroegtydig geleer dat jy nie spring van die een werk na die ander nie.”
Van der Waal is al 47 jaar by die munisipaliteit betrokke en ontvang in Julie ‘n toekenning vir haar lang diens. “Ek het honderde staaltjies om te vertel van my ervarings by die stadsaal.

Ek sal byvoorbeeld nooit vergeet hoe ons by die ou gebou waar die Promenade nou is, die toring moes uitklim om van ‘n byekorf ontslae te raak nie.
LEES OOK: FOTO’S: kykNET-Verjaarsdagkonsert @ Innibos 2019
“Ons het ‘n groot kluis onder in die gebou gehad en daar was natuurlik ook sprake van ‘n spook wat ons almal op hol gehad het,” vertel sy.
Haar hooftake is hoofsaaklik om alle korrespondensie van alle erwe in Mbombela noukeurig deur te gaan en dan na die toepaslike afdeling te stuur. Dinge het beslis verander deur die jare en die stadsaal het in 1998 vanuit die Promenade na die huidige adres in Mbombela verhuis.
Sy vertel dat talle van haar medewerkers na die samesmelting afgetree het, maar sy het nie kans daarvoor gesien nie. “Ek is ‘n maklike mens wat daarvan hou om kennis te verwerf en die nuwe rekenaarstelsels en verskillende dinge wat ek leer as hoofrekordsklerk, gepaard met die span waarmee ek werk, is definitief waarom ek so lank by die munisipaliteit werk.
“’n Groot voordeel van my werk is dat ek alles onthou uit die lêers waarmee ek in aanraking gekom het.”

LEES OOK: BREAKING NEWS: Armed robbery at Riverside Mall
Met verloop van die jare is daar baie burgemeesters wat ‘n positiewe indruk op Van der Waal gemaak het en sy het die huidige munisipale bestuurder, Neil Diamond onder andere uitgesonder. Van der Waal het beslis ‘n lang pad geloop van die dae toe alles per hand gedoen is en ou lêers oral gelê het, na die rekenaars en die papierlose omgewing waarin sy nou werk.
“Ek onthou toe ons trek, moes ons al die lêers skandeer en oplaai, wat nie ‘n maklike taak was nie.
“Die beste ervaring van my loopbaan was om mense uit ander dorpe soos KaNyamazane en Matsulu te kon help met kwessies oor onder andere hul erwe.
“Hier het ek en my span lang ure gewerk om alles op dreef te kry,” vertel sy.
Van der Waal tree binnekort af en beplan om regdeur Suid-Afrika te reis en meer tyd met haar kleindogters deur te bring. Sy sê: “Ek sien baie uit na my aftrede en wil graag baie meer van my kleindogters se buitemuurse aktiwiteite bywoon. Ek gaan my mense beslis verskriklik baie mis.”
