Jeanne-Mari moedeloos na sy en gidshond Ebba toegang geweier word
"Praat mooi met my. Ek is nie 'n krimineel nie, ek het nie gesteel nie."

MBOMBELA – Het jy al ooit gedink hoe dit moet voel om toegang by ‘n restaurant geweier te word of nie op jou eie te kan geld trek nie? Dit is maar net van die struikelblokke wat Jeanne-Mari Viviers in die gesig staar.
Viviers is as baba met retina-blastoomkanker gediagnoseer en het as kleuter haar sig weens dié siekte verloor. Sy het vanjaar as eerstejaarsklerk by Du Toit Smuts en Vennote aangesluit en hoewel die gemeenskap haar met ope arms verwelkom het, weier sommige instansies steeds dat sy en haar gidshond Ebba hul persele betree.
“Dit is so goed soos iemand wat in ‘n rolstoel sit en jy sê vir hulle rolstoele is nie welkom nie. Hulle het hul rolstoele nodig om te beweeg en ek het my hond nodig om
te beweeg,”
vertel ‘n duidelik gefrustreede Viviers.

Sy benadruk dat hoewel ‘n siende persoon haar dikwels vergesel, sy steeds haar gidshond broodnodig het.
“Daar word ten duurste betaal om die honde op te lei en blinde mense
95 persent onafhanklik te maak, en nou mag ek haar nie eers gebruik nie.”
Volgens Viviers dra Ebba altyd haar harnas. Sy is ook opgelei om nie in openbare plekke te urineer nie.
ALSO READ: Rare skin condition changes teen’s life
“Dit pla my ook glad nie as mense my vra nie. Wat my pla is dat hulle van ‘n afstand af vir my skree dat ek nie my hond mag inbring nie, nog voordat ek kan verduidelik. Dis vernederend vir my en die persoon wat saam met my is.
“Praat mooi met my. Ek is nie ‘n krimineel nie, ek het nie gesteel nie.”

Dit is egter nie die enigste struikelblok wat in Viviers se pad staan nie en sy verduidelik dat daar vele uitdadings is, veral wat tegnologie betref. Vroeër vanjaar het sy en haar ouers gesukkel om ‘n wasmasjien en tuimeldroër met knoppies te kry en sy sukkel dikwels om self die koopkrag in haar huis op te laai. Geld trek by ‘n OTM is ook ‘n uitdaging.
“Maar ‘n mens leer om hiermee saam te leef. Dit raak net moeilik wanneer mense jou nie met respek behandel nie.”
ALSO READ: Gimnaste bokspring bo-oor die kompetisie
