KykNET-Nou! Rockverhoog die perfekte resep vir ‘n lekker vibe
Aanhangers was vasgenael en al hoe meer mense het na die verhoog gestroom.

Een knypie Bob Marley, ‘n handvol vastrap, ‘n titsel trekklavier en ‘n goeie dosis falsettokitaar wat hom soos ‘n banjo gedra. Meng dit met reggae en versier met ‘n bietjie woema.
Dis wat talle rockliefhebbers gekry het toe Tidal Waves Vrydagaand die vertoning op die KykNET-Nou! Rockverhoog geopen het.
Dit het ietwat van ‘n vraagteken by toeskouers gelaat.
Dit was nou nie juis die mosh pit-, breinbliksemvertoning wat die jongspan verwag het nie.
Maar wat kom eerste? Tog moet daar eers ‘n vonk wees voor ‘n vuur kan ontstaan. Of liewer toe ‘n wegholveldbrand met Van Pletzen wat volgende die verhoog betree het.
Soos hulle album se naam lui, het hulle ‘n baie lekker vibe na die verhoog gebring en die aand se trant het ‘n hele paar trappies geklim.
Van Pletzen is ‘n Afrikaanse voelgoed-band wat bestaan uit Mattheieu Auriacombe en Peach van Pletzen.
Hulle maak musiek met ‘n redelike unieke, humor-belaaide aanslag soos Zaberfluten.
Baie dieselfde as Bittereinder, maar met ‘n bas wat jou nekhare laat rys.
Die band het hulle vertoning afgesluit met ‘n energieke debuutvertoning van Waar Bly Jy.

Met die litte behoorlik los het die gehoor uit sy nate gebars vir Spoegwolf, Suid-Afrika se eerste en enigste Afrikaanse band wat ‘n eerste plek op iTunes behaal het.
Aanhangers was vasgenael en al hoe meer mense het na die verhoog gestroom.
‘n Eens handjievol groepie, was nou ‘n volgepakte skare wat soos een man saamgesing het.

Die aand het op ‘n hoë noot geëindig met Watershed, ‘n vertoning wat vir nog lank aangahngers sal bybly.
Hoe dan anders met ou bekendes soos Indigo Girl wat aanvanklik die band se deurbraakliedjie in 2000 was.
Foto’s: SchutteLive


