Jy kan ‘n seuntjie se lewe verander
Lus vir 'n uitdaging en om terselfdertyd by te dra tot 'n wonderlike geldinsamelingsveldtog tot die gesondheid van 'n sesjarige seuntjie?

Teken Saterdag 13 Julie in jou dagboek aan, want dan vind ‘n hindernisresies op ‘n plaas vir Daniël Otto, wat ‘n rare spiersiekte het, plaas.
Daniël is net voor sy derde verjaarsdag met kognitiewe spierdistrofie gediagnoseer en kon kort daarna nie meer loop nie. Hy is tans in ‘n rolstoel en in gr. R in Laerskool Mariepskop.
Sy mediese en fisioterapeutiese onkostes beloop ‘n enorme bedrag. Familie en mense wyd en syd in Suid-Afrika span saam om hom te ondersteun deur fondsinsamelings en ander dergelike maniere.
Die plaashindernis is juis daarop gemik om fondse vir Daniël in te samel. Die resies is die ideale geleentheid vir spanbou vir besighede, maar individue is net so welkom. Dit vind plaas op Marlotti Farm Venue, 30 km uit op die R36 (Ohrigstadpad) en drie kilometer verder uit op die R533- (Pelgrimsrus-pad) afdraai.
Die hindernisresies kan oor 500 m, twee kilometer, vyf kilometer of 10 km aangepak word. Spanne kan uit twee of vier persone bestaan. Registrasies vir die resies open vanaf 06:00. Die eerste resies begin om 09:00. Daar is geen ouderdomsbeperking nie, en daar is verskeie pryse en lekker eetstalletjies. Bring die hele gesin en geniet die geleentheid om iets goed vir iemand anders te doen.
Pryse vir resies is R50 per inskrywing vir die 500 m, R80 vir die twee kilometer, R120 vir die vyf kilometer en R200 vir die 10 km.
Navrae: Marina by 082-823-8414 of Martie by 072-409-6500, of e-pos info@marlotti.co.za.
