Wit Wolf deel die verhaal oor sy bevryding
Na 'n kort stilte is Pen in my Hand uiteindelik terug, en dit boonop by 'n splinternuwe venue. Op 25 Julie kan boekliefhebbers uitsien na 'n heerlike boekegesprek by Orange Restaurant.
MBOMBELA – Die aand se gaste is die skrywer en joernalis, Alita Steenkamp en die Worcester-bomplanter, Stefaans Coetzee wat gesels oor hul boek Wit Wolf – Die Worcester-bomplanter Se Storie van Bevryding.
Die boek handel oor Coetzee se lewe nadat hy op 19-jarige ouderdom ‘n bom geplant het wat die lewens van vier
mense geëis het. Hy is gearresteer en in 2015 op parool vrygelaat.

Hier is ‘n uittreksel uit die boek as ‘n voorsmakie van die gesprek wat wag:
Toe ons by die Shoprite-winkelsentrum stilhou was die hele pad afgesper deur lede van die polisie se taakmag en die tronk se reaksie-eenheid. Daar was ook lede van omliggende tronke se reaksie-eenhede.
Dit was 16 September 2013, en ek was terug op die plek waar een van ons bomme amper 17 jaar tevore op Oukersdag verskeie mense se lewe aan flarde geruk het. Waar gaan ek vandag die krag vandaan kry om ‘n duisend mense juis hier in die oë te kyk, het ek by myself gedink. Dit was al klaar so swaar vir my met die kleiner groepies.
Die minister het die deur vir my oopgemaak en my ‘n drukkie gegee.”Hoe voel jy?” wou hy weet. “Ek is reg vir die dag, ons kan die taak maar aanpak,” het ek geantwoord. Maar dit was nie heeltemal waar nie, my vrees het weer vlak gelê. Ek was banger as agt maande tevore in Pretoria met die Vredestrein-groep.
Dit was nou vir my baie erger – ek was op die punt om ‘n plek te betree wat heilige grond in die oë van my slagoffers was. Ek was ook bang iemand vra waar die bom geplaas was. Ek het nie geweet nie, want ek en Jan het nooit ná die tyd daaroor gepraat nie.
Die minister het met my gesels terwyl ons nader aan die winkelsentrum geloop het. Iewers op die agtergrond het iemand hard in Afrikaans geskreeu: “Hang hom!” Moenie dat dit jou van stryk bring nie, het ek vir myself gesê. In die sentrum naby Shoprite se ingang vra die minister toe die vraag wat ek gevrees het: “Sê my, Stefaans, waar presies het jy die bom geplant?” Ek het my skouers opgetrek.
“Om eerlik te wees, dit was nie ek wat die bom in Shoprite geplant het nie,” het ek gesê en verduidelik dat dit eintlik een van die ander was. Die minister was tegemoetkomend. “Kom ons staan net hier in die ingang van die winkel. Jy kan van hier af die media toespreek.”

Kaartjies is beskikbaar teen slegs R60 per persoon wat ‘n heerlike aansitmaaltyd insluit, en kan bespreek word by Orange Restaurant by 083-628-7759. Spasie is beperk, so bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
