Lag met ‘n traan saam met Deloris
Plaaslike aktrise Karien van Niekerk se stuk Deloris se Dagboek het vanjaar sy Innibos-debuut gemaak.

MBOMBELA – Van Niekerk is beter bekend as sangeres saam met onder meer die plaaslike groep die Drie Divas. Sy het haar in drama begewe toe sy Deloris “ontdek” het toe sy op 40 ‘n laatlam gehad het en Deloris se Dagboek is gebore.
Tydens Innibos het sy 40 minute van haar oorspronklike stuk by die Boma opgevoer. In die vollengte stuk is daar drie alternatiewe Delorisse. By die
Boma het die gehoor Saterdag vir Deloris de Lange en Deloris Davidson ontmoet.

Van Niekerk is eers onlangs by die program ingesluit nadat Neels van Jaarsveld sy Boma-optredes gekanselleer het. Die gehoor was meegevoer met die twee Delorisse.
SIEN MEER: Plaaslike aktrise deel hart van vrouewees in toneelstuk
Van Niekerk merk voor sy begin dat alle vroue, van alle ouderdomme en rasse oor dieselfde goed lag en huil en bewys dit dan.
Die eerste Deloris aan die beurt (De Lange) neem ons op haar reis van haar swangerskap saam.
“Hulle sê ‘n swanger vrou blom. Wel, ‘n kaktus en delicious monster blom ook.”
Dan wil manlief haar op ‘n seevakansie neem. Die vroue in die gehoor kon hulle beslis vereenselwig met haar stryd om ‘n geskikte baaikostuum op te spoor en die gesukkel om die kinders groot te kry.
Soos Deloris se ma afsluit, solank jy jou kindertjies onder een kombersie kan toevou is jy gelukkig: as hulle eers die huis verlaat kan jy net vir hulle bid.
Dís wat Davidson uitvind wanneer haar seun geskiet word – nogal toe sy bende by haar eie vis-en-tjipswinkel moeilikheid maak. “En die Here kom vat ‘n stukkie van jou hart.”
Deloris se Dagboek is vol deernis vir elke vrou en Van Niekerk vergestalt die uiteenlopende vroue, met hul persoonlikhede, aksente en gebare perfek. Voorwaar lag met ‘n traan.
Moenie ‘n vertoning van Deloris se Dagboek misloop wanneer Van Niekerk dit weer opvoer nie.
LEES MEER: Innibos 2019 feestnuus
