Dankbaarheid vir Annatjie Myburgh uitspraak
Skuldigbevinding bring seun stappie nader aan afsluiting.

MBOMBELA – Dankbaar. Dit is hoe Wendell Myburgh sr. sy gevoelens verwoord het nadat sy vrou, Annatjie, se moordenaars Donderdag skuldig bevind is in die Mpumalanga Hooggeregshof.
Annatjie was 58 jaar oud toe sy op 15 Junie 2016 van haar huis af ontvoer is. ‘n Massiewe soektog is van stapel gestuur voor haar liggaam die oggend van 19 Junie gevind is.

Twee verdagtes, Selby John Mabila en Paul Mathebula, is kort daarna gearresteer. Hulle is sedertdien in aanhouding. Hul verhoor het Donderdag uiteindelik tot ‘n einde geloop. Beide is skuldig bevind aan haar ontvoering, moord en roof met verswarende omstandighede.
SIEN OOK: Annatjie Myburgh accused guilty of murder
Haar wewenaar en twee kinders, Wendell Myburgh jr. en Mellissa Rossouw het die hofverrigtinge bygewoon.
Wendell jr. het Donderdag by die hof vir Laevelder gesê dat hy bly is oor die skuldigbevinding. Hy het die staat geloof vir hul harde werk.
“Eerstens het die polisie ‘n fantastiese saak gehad en die manier hoe hulle en Cornelia (Harmzen, die staatsaanklaer) dit hanteer het was wonderlik – anders sou ons nie so ‘n goeie uitslag gekry het nie.”
Tog is dit nie afsluiting vir die Myburgh-gesin nie.
“Ek is nou een stap nader aan berusting, maar hulle is die twee mense wat ek nooit sal vergewe nie,” sê Wendell jr.
“Die vraag sal altyd daar bly: hoekom? Hoekom my ma? Hoekom het hulle haar ontvoer? Dit is nie ‘n ‘normale’ modus operandi om mense aan te rand, te ontvoer en te vermoor nie.”

Regter Annemarie van der Merwe het in haar uitspraak gesê dat sy beide Mabila en Mathebula as uiters swak getuies beskou het. Hulle was die enigste getuies in hul eie verweer.
SIEN OOK: Crime-fighter puts detective skills to excellent use in case
Wendell jr. het elke dag se verrigtinge gevolg. “Hulle het so gelieg, ek dink hulle het naderhand nie geweet wat om te glo nie,” sê hy.
“Waar in jou lewe stry jy teen tegnologie? Hoe argumenteer jy met ‘n man met 36 jaar se ondervinding en jou vingerafdrukke?”
Die saak is uitgestel tot 15 Augustus vir vonnisopleggingsprosedures om te begin. Die Myburghs sal daardie dag weer in die hof wees.
“Ek hoop hulle sit lank,” sluit Annatjie se seun af.
LEES MEER: Annatjie Myburgh’s tragic end
