Onderwysers mag ook speel
Onderwysers word selde gedurende skoolvakansies in die publiek gewaar; dis amper asof hulle in hibernasie gaan.

Niemand weet wat hulle tydens die vakansies doen nie.
Een van die eerste vrae wat ‘n onderwyser gevra word op die eerste skooldag is: “Wat het juffrou/meneer die vakansie gedoen?”

Steelburger/Lydenburg Nuus het met onderwysers van Laerskool Burgersfort en Waterval CVO-skool gesels om uit te vind waarmee hulle hulself gedurende die skoolvakansies besig hou.

Dirk Engelbrecht is ‘n finale jaar-onderwysstudent aan die Universiteit van Suid-Afrika. As jong man het hy oor die paar jare wat hy onderwys gee verskillende maniere gekry om homself gedurende skoolvakansies besig te hou. Daar word wel nie net gerus tydens vakansies nie; alle onderswysers moet voorbereiding doen vir die volgende kwartaal.

Engelbrecht doen sy voorbereiding die week voor die skole weer open. Gedurende die vakansie probeer hy wel soveel as moontlik rus, en ook ‘n paar huistakies afhandel. Tydens die Desembervakansie verlede jaar het hy by famillie in Kanada gaan kuier. Tydens die korter vakansies is hy egter óf tuis óf hy gaan kuier vir sy ouers wat nie in Burgersfort woon nie.

Gedurende hierdie skoolvakansie was hy egter baie fluks en kreatief. Hy het tyd in sy tuin spandeer, ‘n paar nuwe plante geplant en ook ‘n nuwe vuurmaakplek gebou. Hy was ook ‘n dag in Mbombela vir die Innibos-fees, en hy sê dis iets wat hy verseker weer gaan doen. Hy ry graag perd, vang vis, kuier saam met sy vriende en is selfs op naweke ‘n platejoggie. ‘n Man van vele talente.

Che-vonne Boyens is ‘n onderwyser by Waterval CVO-skool en het ‘n groot liefde vir die natuur. Wanneer sy nie gedurende die vakansie voorbereiding doen nie, is sy besig met verskeie ander aktiwiteite. Een van haar stokperdjies is fotografie, maar die foto’s wat sy afneem is uniek. Boyens vang slange; baie gevaarlike slange. Sy woon op ‘n plaas, en as ‘n slang ‘n draai kom maak, vang sy hom en neem verskeie foto’s voor sy hom weer laat gaan.

Sy is ook ‘n gesinsmens en het ‘n noue band met haar suster wat uitstedig studeer het. Tydens die vakansies kry hulle die geleentheid om ‘n bietjie te kuier en “sussietyd” te hê. Sy besoek graag die Nasionale Krugerwildtuin en is lief vir kamp.

Diegene wat nou al die voorreg gehad het om Boyens se klaskamer te besoek, sal weet hoeveel moeite sy in haar klas se dekor insit. Sy maak ook seker al haar kinders se boeke is volgens ‘n sekere tema oorgetrek. As dit by skoolwerk kom, is alles op sy plek, en sal sommige mense sê sy is ‘n perfeksionis.

Natuurlik rus sy ook so tussendeur al die opwinding. Vir haar is dit belangrik dat sy weer die volgende kwartaal haar volle aandag aan die kinders in die klas kan gee.
