Jy is nooit te jonk om te leer stoei nie.
By die Lydenburg Stoeiklub kan kleuters van so jonk as twee jaar dit as sportsoort beoefen.

“Die stoeiklub het vanjaar begin om die klein stoeiertjies in te neem om die basiese fondasie en beginsels van stoei op ‘n speel-speel manier aan hulle te leer. Hoe jonger ‘n kind begin stoei, hoe beter,” vertel Natasjja de Villiers, stigter van die klub en ook afrigter en skeidsregter.

Die klasse is net 45 minute lank, en sluit 15 minute se opwarming in, waar aandag gegee word aan fiksheid en uithouvermoë, 10 minute se strekoefeninge, ‘n vyf minute breek, 10 minute basiese beginsels soos balans, stoeiposisies, verskillende stoeirolle en daarna vyf minute se afwarming.

“Vanaf vyfjarige ouderdom word dié jongetjies na die groter groepie van vyf jaar en ouer oorgeskuif en word hulle deel van die stoeiklub se Pumatjiestoeiers en ook geregistreer as stoeiers. Daar is vyf Pumatjietoernooie ‘n jaar waar elke Pumatjiestoeier tydens die eerste toernooi ‘n skild ontvang, en daarna met elke toernooi ‘n knopie ontvang wat op die skild aangebring word,” vertel De Villiers.
Volgens haar begin die Pumatjies grepe en tegnieke leer nadat balans en basiese beginsels reeds van ‘n jong ouderdom af vasgelê is. ‘n Stoeier mag eers vanaf vyf jaar volgens Suid-Afrikaanse stoeireëls aan kompetisies begin deelneem.
Die jong stoeiers oefen op Dinsdae en Donderdae vanaf 16:15 tot 17:00 by die hoërskool se De Souza-seunskoshuis. Ouers wat belangstel om hul kinders, seuns en dogters, aan stoei as sport voor te stel, kan De Villiers skakel by 072-371-7583.


