Local newsNews

Fanie Combrink vertel die feite van die wildsbedryf

Hoekom is die vet aan 'n sebrakarkas galbitter? En wat is hierdie gewilde jagters-prawns wat mense deesdae gaande het?

MBOMBELA – Om antwoorde op dié en ander interessanthede oor wild en wildvleis te kry, is daar by Fanie Combrink, bekende jagter, slaghuiseienaar en wildsmous van Rhino Hill Game Processors aangeklop.

“Omdat sebras altyd die laaste diere is wat in ‘n migrasieroete deurkom, vreet hulle noodgedwonge die minder smaaklike gras. En daardie swak voeding pak saam in die dier se vetlaag.Maar as die vetlaag weggesny is, is die dier se vleis die heerlikheid vanself. Dit het ‘n baie fyn grein en is gelaai met proteïne,”

sê Combrink.

LEES OOK: Onsekerheid oor gevolge van Nkomati-mynsluiting

Jagters-prawns is, soos die sogenaamde Kalahari-prawns (skaapstertjies), eintlik maar krokodilpootjies. Volgens Combrink het die idee gekom van krokodilplase waar jong krokodille, sodra hulle 1,2 meter lank is, vir hulle velle en stertvleis geslag word.

“Die plase het ‘n oorvloed van pootjies en daarom het hulle begin om dit as ‘n lekkerny aan te bied.”

Rhino Hill, wat by Renosterkop op die Uitkykpad geleë is, is tans die enigste slaghuis in Mpumalanga waar daar uitsluitlik wildsvleis verkoop word. In die 650 vierkantemeter-gebou, is daar ‘n slaghuis, slagpale, wildverwerkingsaanleg en biltong- en droëworsdroogkamer.

‘n Ander insiggewende aspek rondom wild is die neiging dat bokkarkasse al kleiner word. Dit word toegeskryf aan inteling wat op veral wild- en jagplase plaasvind.
En hoekom het wildsvleis ‘n neiging om “wild” te ruik en proe?

“Dit het te doen met bloed wat in vleis en bene agterbly as die dier geslag is. Dit is belangrik om die karkas korrek te laat uitbloei en so gou moonlik in ‘n koelkamer te kry,”

sê Combrink.

“Deur vleis soos skenkels en stert, voor dit gaargemaak word, eers vir ‘n paar minute te kook en die water dan uit te gooi, word die wildsmaak verwyder.”

As die vleis korrek bewerk word, is daar geen rede dat dit hoegenaamd wild sal proe nie, verduidelik hy. En hoewel wildsvleis gedroogde vleis maak, word dit al hoe gewilder vir die pot.

Combrink sê die gewildheid van wildvleis is besig om toe te neem omdat die vleis nie net gesonder, ‘n hoë proteïne-inhoud het en smaakliker is nie, maar omdat dit goedkoper as ander rooivleis is.

“Ons volg die neergelegde protokol wat deur veeartseny voorgeskryf word, slaafs na. Dit sluit onder meer in dat karkasse wat aan ons verskaf word, met die kop en longe afgelaai word.Die dier se brein en longe word deur gesondheidsinspekteurs getoets vir siektes soos tuberkulose en eers dan sal hulle die karkas stempel as geskik vir menslike gebruik.”

In ‘n wildkamp voor die gebou is daar diere soos volstruise, swartwitpense, rooibokke en sebras. Die diere word egter glad nie gebruik om geslag te word nie – Combrink handel ook in lewende wild.

LEES OOK: Dankbaarheid vir Annatjie Myburgh uitspraak

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button