Nodige fondse ingesamel vir ‘n spesiale brawe seuntjie
'n Hindernisresies is Saterdag ten bate van Daniël Otto op die Marlotti Farm Venue op die Pilgrim's Rest-afdraaipad gehou.

Daniël ly aan ‘n rare spiersiekte, naamlik kognitiewe spierdistrofie. Dié siekte het hierdie sesjarige so aangetas dat hy reeds permanent in ‘n rolstoel is.
Ten spyte van sy siekte is hy is ‘n gelukkige seuntjie wat die lewe geniet. Sy mediese onkostes beloop egter ‘n enorme bedrag en daarom het mense van heinde en verre gekom om deel te neem aan die resies.
Vroegoggend het mense al begin saamdrom, gereed vir aksie. Deelnemers kon in spanne van twee of vier aan verskeie afstande van twee en ‘n half, vyf en tot 10 kilometer deelneem. Afgesien van die tawwe hindernisse en uitdagings was daar verseker nie ‘n tekort aan gees nie. By elke hindernis het spanmaats mekaar gehelp en bygestaan. Deelnemers moes onder meer deur yskoue water swem, oor enorme bale klim en spring, waterkanne dra en deur modder en sand kruip.
Ongeveer 500 mense het die dag bygewoon. Daniël se trust is met R35 000 versterk. Die geld gaan aangewend word om ‘n terapeutiese swembad vir Daniël te installeer. “Swem is die beste oefening vir hom. Die swembad gaan ‘n tydjie neem om te voltooi, maar behoort hopelik teen die einde van die jaar voltooi te wees,” sê sy ma, Marina Otto.

