Local newsNews

Laeveld lewer eerste Springbokkaptein op

Kaptein Duane Vermeulen is reg om sy span teen die All Blacks te lei. Fotokrediet: Johan Orton

MBOMBELA – Die Laeveld het al talle sportsterre opgelewer. Dit sal egter Saterdag die eerste keer ooit wees dat een van Mbombela se boorlinge die Spingbokke lei. Die 33-jarige Duane Vermeulen sal môre as kaptein in die groen-en-goud uitdraf wanneer die Bokke die All Blacks in Wellington, Nieu-Seeland, aanpak.

Dit sal Vermeulen se 47ste wedstryd vir die Springbokke wees en sy eerste as spankaptein. Hy sal om 09:35 Saterdag, sodra die Castle Rugby Championship-wedstryd afskop, Springbokkaptein-nommer 62 word.

Vermeulen is ‘n oudskolier van Laerskool Nelspruit en Hoërskool Nelspruit. Hy is in 1986 in Rob Ferreira-hospitaal gebore.

Die wedstryd 23-tal is vroeg Woensdagoggend, Suid-Afrikaanse tyd, tydens ‘n mediakonferensie in Wellington bekendgemaak.

Eben Etzebeth, wat die span verlede Saterdag teen Australië aangevoer het, is in die begin 15-tal, maar Bok-afrigter Rassie Erasmus het Vermeulen as kaptain gekies vir die All Black-wedstryd. Dié wedstryd kan moontlik die reekskampioen bepaal.

Die losvoorspeler het in 2012 sy Springbokdebuut gemaak. Hy het in sy 46 wedstryde drie drieë gedruk.

“Net ‘n paar spelers het in die geskiedenis die eer gehad om die Springbokkaptein te wees. Daarom is dit ‘n opgelooflike eer vir my,” het Vermeulen vanoggend gese.

Hy beskryf sy kapteinskapstyl so: “Die mense wat my ken sal vir jou sê dat ek net lief is om te speel en dat ek nie een is vir groot toesprake nie.”

“My rol in die span bly diselfde en ons het ‘n groot leierskapsgroep. Dit is goed vir die span. Op wedstryddae is daar ‘n paar van ons wie op die veld die praatwerk doen,” het Vermeulen gesê.

Vermeulen se ma Estalien, wie in Mbombela bly, het die nuus op Jacaranda FM gehoor. “Dit was oorweldigend toe ek dit hoor. My hart het ‘n paar tellings stilgestaan. Ek is baie trots. Almal het my gebel en die trane het geloop,” het sy gister vir Laevelder vertel.

“Ek weet hy gaan sy beste doen (in Saterdag se wedstryd). Hy sal die palmtak dra. Sy spanmaats sal na hom opkyk. Hy dwing respek af. Hy het baie hard gewerk om hier te kom; dit het nie in sy skoot geval nie,” het sy ma gesê.

Ook in môre se Bok-span is Faf de Klerk, ‘n oudleerling van Laerskool Bergland, wat die wedstryd begin in die nommer nege trui. Stut Trevor Nyakane, wat op Bosbokrand gebore is, is op die reserwebank.


Arrie Henn

Ons dra oor die jare die filosofie, in alles wat ons kinders by Laerskool Nelspruit doen, dat “harde, eerbare en deeglike werk beloon sal word”. Dit is presies wat waar geword het van Duane Vermeulen, wat kaalvoet rugby by Laerskool Nelspruit leer speel het en bereid was om sy droom waar te laat word. Ons Nellies is supertrots op Duane. Hy het hier by Laerskool Nelspruit homself onderskei as ‘n kind met ‘n gedissiplineerde werketiek, mooi waardes, buitengewone leierseienskappe en ‘n sportman by uitnemendheid. Ons salueer jou, Duane, en weet jy gaan SA trots maak!  – Arrie Henn, hoof van Laerskool Nelspruit

 

Johan Hattingh

Dit is vir ons skool ‘n voorreg om deel te kon wees in die vormingsjare van Duane Vermeulen. Reeds as skoolseun het sy vasberadenheid, werketiek en motivering daarop gedui dat sukses in sy sportloopbaan ‘n wesenlike moontlikheid is. Die feit dat Duane op skool al aan sy karakter gewerk het, eerder as aan sy reputasie, het bygedra daartoe dat hy ‘n skitterende rolmodel is vir die Nellies in die besonder, maar vir alle jong Suid-Afrikaners in die algemeen. Duane dra met trots die palmtak hoog! Ons as Nellies wens die Bokke onder sy leiding alle sterkte toe vir Saterdag se wedstryd teen die All Blacks – Johan Hattingh, hoof van Hoërsklool Nelspruit.

 

Jaco Breyl

Duane het reeds op ‘n jong ouderdom goeie balvaardighede gehad en op beide die krieket- en rugbyveld geskitter. Sy dissipline en hongerte om meer van die spel te leer het sy potensiaal onderstreep. Hy was al op o/9-vlak groter as meeste van sy maats. Duane was ‘n gesonde jong mannetjie vol energie. Ek het hom leer ken as ‘n seun wat uit ‘n streng huishouding kom, waar hy goeie maniere en respek vir onderwysers geleer is. Duane was baie liewer vir die sport as akademie. Sy ma het hom een middag tydens ‘n rugbyoefening kom haal en gedreig om sy rugby te stop indien die mannetjie nie sy huiswerk begin doen nie. Duane was vinning om haar te verseker dat hy meer aandag daaraan sal gee. Ek het ‘n kort boodskap gestuur om hom geluk te wens. Hy het teruggeantwoord dat hy die boodskappe almal waardeer. Na al die jare spreek hy my nog aan as ‘meneer’. Duane het vroeër vanjaar net verleë geglimlag toe ek hom gepols het oor die Bokke se kapteinskap. Sy antwoord was dat dit reeds ‘n groot voorreg is om vir die Bokke te kan speel – Jaco Breyl, Vermeulen se rugbyafrigter op laerskool.

Gerhard Holtzhausen

Duane was tot in die o/16-jaar nie ‘n gereelde speler van die A-span nie, maar was ‘n speler wat rugby verstaan het. Hy was baie nederig en ook ‘n laat ontwikkelaar. Op daardie ouderdom van 16 in 2002 was dit moeilik om te sê dat hy as speler iewers gaan kom, omdat ons verwysingsraamwerk in die Laeveld nie so breed was soos nou nie. Duane het egter na sy o/16-jaar baie groter geword en het 2004 Cravenweek vir die Pumas gespeel. Niks aan hom het verander rakende gesindheid en nederigheid nie, maar die dryf om eendag soos sy oorlede pa te wees wat vir WP gespeel het, was groot. Duane het gereeld teruggekom skool toe en kom deel wat hy geleer het in sy rugbyloopbaan. ‘n Besonderse kenmerk is day hy sy roots onthou. Duane, mag God se rykste seën oor jou wees as leier van die Springbokke, en mag jy soos altyd jou medespelers ophef sodat julle as span ‘n eenheid is wat nie gebreek sal word nie. Die uitslag van die wedstryd bepaal nie wie jy is nie, maar wat jy gedoen het aan dié rondom jou – Gerhard Holtzhausen, sy hoërskoolafrigter. 


Springbokspan

15. Willie le Roux (Wasps), 53 wedstryde
14. Cheslin Kolbe (Toulouse), 7
13. Lukhanyo Am (Cell C Sharks), 6
12. Damian de Allende (DHL Stormers), 37
11. Makazole Mapimpi (Cell C Sharks), 5
10. Handré Pollard (Vodacom Bulls), 39
9. Faf de Klerk (Sale Sharks), 21
8. Duane Vermeulen (Vodacom Bulls, captain), 46
7. Pieter-Steph du Toit (DHL Stormers), 47
6. Kwagga Smith (Emirates Lions), 1
5. Franco Mostert (Gloucester), 29
4. Eben Etzebeth (DHL Stormers), 76
3. Frans Malherbe (DHL Stormers), 29
2. Malcolm Marx (Emirates Lions), 24
1. Steven Kitshoff (DHL Stormers), 37

Plaasvervangers
16. Bongi Mbonambi (DHL Stormers), 27
17. Tendai Mtawarira (Cell C Sharks), 108
18. Trevor Nyakane (Vodacom Bulls), 38
19. RG Snyman (Vodacom Bulls), 12
20. Francois Louw (Bath), 66
21. Herschel Jantjies (DHL Stormers), 1
22. Frans Steyn (Montpellier), 57
23. Jesse Kriel (Vodacom Bulls), 41

Springbokrekords teen Nieu-Seeland op Westpac-stadion
Gespeel 7; Gewen 1; Verloor 6; Gelykop 0; Punte vir 115; Punte teen 214; Drieë vir 14; Drieë teen 25; Wenpersentasie 14%

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button