Dooie en beseerde hase wek kommer
Van die hase se voor- en agterpote was af. Een se regteroor was niks behalwe ‘n rou roof nie.

LYDENBURG – Klagtes oor die toestand waaronder hase by Rusoord Ouetehuis aangehou word, het daartoe gelei dat Cathy Schutte van Home 4 Paws ingegryp het.
Volgens Schutte het sy vorige klagtes oor die verwaarlosing van die hasies ontvang en ná sy Saterdag weer ‘n klagte ontvang het, het sy self gaan ondersoek instel.
“Wat ek gevind het, was regtig nie aangenaam nie. Daar was baba-hase wat reeds begin ontbind het in sommige afskortings. Die hokkies het geen hooi of gras as slaapplek gebied nie. Van die hase se voor- en agterpote was af. Een se regteroor was niks behalwe ‘n rou roof nie. Daar was een wat oogkanker gehad het, wat dadelik uitgesit moes word om verdere lyding te voorkom.”

Volgens haar het daar ook verskeie ander baba-hasies in die haashok, wat net met ‘n sementblad uitgevoer is, rondgelê. “’n Paar het nog gelewe. Ons het hulle in komberse toegemaak, maar hulle was net te swak om te oorleef.”
Schutte het landdrostoestemming om enige perseel in die dorp te betree indien daar vermoed word dat dieremishandeling plaasvind. Dit is ‘n welkome stap vir die dorp, aangesien die naaste Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Mbombela gelee is. Schutte het Home 4 Paws, ‘n diereskuiling sonder winsoogmerk, begin, uitsluitlik as skuiling vir weggooi- en verwaarloosde honde, maar namate die mishandeling onder ander diere toegeneem het, moes sy noodgedwonge ingryp en toestemming kry as inspekteur.
“Daar is al voorheen klagtes by die DBV oor die algehele toestand van die hase gelê. Na die laaste klagte, het ek besluit om self te gaan kyk,” het Schutte verduidelik.
Die koerant het Jeanette Kruger, bestuurder by Rusoord, genader vir kommentaar oor die hase. Kruger het bevestig dat Rusoord ‘n besoek gehad het van Home 4 Paws. “Schutte het my Saterdag geskakel en gevra dat ek onmiddellik moet uitkom in verband met die hasies. ’n Gesprek het gevolg en ek het aan haar voor getuies gesê dat ek nie wil baklei nie.”

Volgens Kruger het sy aan Schutte gesê dat die hokke elke dag skoongemaak word, behalwe Saterdae en Sondae wanneer die tehuis nie hulp het nie. “Cathy het gesê dat sy al heelwat oproepe oor die behandeling van die hasies ontvang en kom foto’s neem het, maar geen fout gevind het nie. Sy het egter vir ons gesê dat dit die eerste keer is wat sy fout vind.”
Kruger meen dat dit wel so is dat daar dooie hasies was wat vermoedelik verkluim het. “Dus pleit ons skuldig wat dit aanbetref. Ek het ook vir Schutte gesê sy kan die hasies vat; ek is moeg vir mense wat gedurig loop en foto’s neem en ons nie daarvan verwittig nie. Dit is jammer vir die bejaardes, maar die hasies moet gaan. Sy het belowe om te kyk vir eienaars, maar het blykbaar geen eienaars gekry nie. Ons het wel gekry en die hasies sal Donderdag (gister) ‘n ander heenkome kry.”

