Local newsNews

Die Buffelfees sorg vir heerlike samesyn

Die vyfde Corridor Buffelfees wat  by die Buffel Hotel aangebied is, het sowat 1 200 mense gelok.

Die perseel was voorwaar volgepak. Die skare het uitstekende waarde vir hul geld gekry: regdeur die dag is hulle vermaak – eers met verskeie kompetisies, en toe kunstenaars Anthony McGee, Karlien Husselman en Pieter Naudé.

KYK: Jay du Plessis pak die bul by die horings

Die kersie op die koek was egter Lianie May en Jay die aand. Die land se gunsteling-duetpaar het gewys hoekom hulle so goed saamwerk. Hulle is duidelik beste vriende en hul persoonlikhede en stemme vul mekaar perfek aan. Seremoniemeester Johan Yssel het seker gemaak die worsrol-eet, bierdrink, KWV-sopieproe en ballonbars-kompetisies het vlot verloop.

 

Almal is met lekker pryse van die dag se hoofborge beloon. Goëlaar Yssel het ook sy kulkunstoertjies gedemonstreer met onder meer van sy toertjies mooi verduidelik sodat almal dit daarna kon doen. Daar was ook hope speelplek en vermaak vir die kinders, ‘n bedrywige biertent, verskeie stalletjies en natuurlik, kos. McGee het die musiekvermaak die middag begin. Sy Neil Diamond-keurspel was gewild.

Husselman, die sogenaamde jodel-koningin, het tussen die gehoor geloop en sing, en ‘n voorsmakie gegee van die country en gemak wat die gehoor later die aand met Jay en Lianie te wagte kon wees. Naudé het weer atmosfeer geskep met sy saamsingliedjies, voor die supersterre om 19:00 die verhoog bestyg het. Lianie het afgeskop met “Tennessee Waltz”, gevolg deur “Chiquitita”.

KYK: Pieter Naudé by die #CorridorBuffaloFest

Van die kindertjies wat op die verhoog gesit het, het haar later ‘n paar drukkies gegee. Almal het saamgesing met “Soen my nie meer nie” voor Jay by haar aangesluit het. Die twee is baie plat op die aarde en het mekaar deurgaans geterg en geskerts. Hulle het die gehoor op al hul treffers trakteer, van “Lank lewe die liefde” en “Bonnie & Clyde” tot “Siekverlief” en “Da’ vat hy”.

Jay het later die al die kindertjies in die gehoor saam met hom op die verhoog genooi vir “Superhero”. Hy het “Die Land” gesing en afgesluit met “Lyf teen lyf”. Die ander drie kunstenaars het tot laat die aand die skare aan die dans gehou. Die Buffel bring voorwaar almal bymekaar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button