Skote klap vir fondsinsameling
Die Hervormde Kerk Lydenburg het buite die boks gedink en 'n unieke skietervaring aangebied wat terselfdertyd ook 'n geldinsamelingsprojek vir die kerk was.
Skote het Saterdag by die De Grooteboom-skietbaan buite Burgersfort vir ‘n goeie doel geklap.
Afgesien van langafstandteiken en ghongskiet, is verskeie gholfballe tussen 50 en 300 meter versteek waarop aangelê en geskiet is. Dit was ‘n ideale oefenlopie om saam met gesellige mense ‘n paar skote af te vuur.
Natuurlik was daar ook pryse op die spel. Die wenner het weggestap met R5 000, die tweede plekwenner met R2 500 en die derde plekwenner met R1 000.
Vir diegene wat met handwapens wou skiet, is daar ook voorsiening gemaak. Hulle kon rustig verskeie wapens en ammunisie uittoets en ook hulle teikenvernuf opskerp.
Later die dag is daar ook na kleiduiwe geskiet. Elke deelnemer moes net hul eie haelgeweer bring om deel te neem.
Die sukses van die dag is moontlik gemaak deur die samewerking van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Bosboktak.
Wenners van die dag:
Eerste plek: Johan Grimbeek.
Tweede plek: Solmon Joubert.
Derde plek: Roelof Joubert.




