Rooikatte nederlaag
Die Rooikatte se eerste span was Saterdag ongelukkig om met vier punte teen die Pumbas van Hoedspruit te verloor.
Die wedstryd was die laaste van vanjaar se ligawedstryde wat op die Rooikatte se tuisveld by Rooikatpark gespeel is. Die volgende wedstryde, die laaste in die Phakisa Laeveld-hoofliga en Phakisa Laeveld-reserweliga, word op 17 Augustus op Belfast beslis. Die Rooikatte se eerstes sal teen Belfast opdraf en die tweede span teen Matsulu.
Die eindtelling in die wedstryd was 33-29 in die guns van Hoedspruit.
Riaan Schoeman, afrigter van die Rooikatte, het dit as baie ongelukkig vir die Rooikatte geag dat hulle die wedstryd teen die Pumbas verloor het.
Volgens Schoeman, het die skeidsregter glad nie ‘n goeie dag beleef nie, wat “jammer is, want hy het baie goed in wedstryde geblaas soos die seisoen verloop het”.
“Verkeerde besluite op verkeerde tye is ons grootste ondergang op die oomblik. Ons het vanjaar in vyf wedstryde net-net verloor, maar kon darem elke keer een of twee bonuspunte in die proses behaal.
“In die stadium is ons (eerste span) derde op die Phakisa Laeveld-hoofliga. Barberton is bo met Hoedspruit wat tweede is en die Ratels van Ohrigstad in die vierde plek.”
Dit lyk volgens Schoeman of die Rooikatte teen Hoedspruit in die semifinaal gaan speel. “Ons kan hulle verseker wen; die punteverskil tussen die spanne is net vyf na twee wedstryde.”
Duan Russouw en Julius Ackermann is onderskeidelik as voorspeler en agterspeler van die wedstryd aangewys.
Vir die Rooikatte het Anton Burger, Niel Kemp, Johan Reinecke en Ackermann drieë gedruk. Ruhan Bouwer slaag met twee doelskoppe asook ‘n strafskop.
