Sangers reël ‘n behoorlike boere-makietie
As jy van lekker kuier, heerlike kos en goeie Afrikaanse musiek hou, maak seker dat jy nie die eerste van 'n reeks gereelde boere-makieties in die dorp op 12 en 13 September misloop nie.
Die modelsangers van DZL (uitgespreek “diesel”) en die jolige Manie Jackson gaan die Onderberg kom vermaak en hoop om in die toekoms elke paar maande so ‘n lekker kuier te reël.
Hulle eerste optrede sal op 12 September om 19:00 by River House Lodge in Malalane wees, met kaartjies wat ‘n optrede en driegang spitbraai-ete insluit.

Daar is slegs 50 kaartjies beskikbaar teen R450 per persoon en kan by Malelane Apteek of by books@dzlband.co.za of 082-332-9512 bekom word. Die volgende aand gaan hulle onder die sterre by die Malelane-rugbyklub die gehoor vermaak en kaartjies beloop R120 per persoon en R60 vir kinders onder twaalf.
Besprekings geskied ook deur bogenoemde kanale. Die lede van DZL, Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie kuier nou al drie jaar by River House Lodge wanneer hulle die kans kry.
LEES OOK: Die Buffelfees sorg vir heerlike samesyn
Die duo en lodge-eienaar Johan Daffue het koppe bymekaar gesit en besluit om die Afrikaanse kultuur in die omgewing te bevorder deur elke twee of drie maande ‘n lekker opskop by River House Lodge te reël.
Die geleenthede gaan poog om vir alle smake en ouderdomme iets lekker te bied en sommer ook fondsinsamelings vir verdienstelike sake en organisasies in die omgewing te doen.
Potgieter en Fourie hoop om vele van hulle vriende in die musiekbedryf die kans te gee om op die oewer van die Krokodilrivier op te tree en dat plaaslike mense hulle musiek in lewende lywe kan geniet. Die eerste van hierdie vriende is Jackson, saam met wie hulle tans toer.

DZL het in 2016 hul debuutalbum, DZL, uitgereik en is vir twee Ghoema-toekennings benoem. Verlede jaar het hulle hul tweede album, Realiteit, vrygestel en talle snitte was treffers op radiostasies regoor die land.
Die duo is nie net internasionale loopplankmodelle nie, maar ook lief vir die bos, renosterbewaring en reise. Die twee besoek gereeld die Nasionale Krugerwildtuin en is ambassadeurs vir ‘n verskeidenheid natuurprojekte, insluitend die bekamping van renosterstropery.
Potgieter en Fourie is passievol oor ‘n gesonde leefstyl en het al hul kookvernuf in die VIA-kookprogram Lek jou lippe af gewys. Fourie was die wenner van die program se tweede seisoen.
Potgieter is in 2016 as Cosmopolitan se sexyste man van die jaar aangewys en Fourie is die volgende jaar met die Top 20 van Men’s Health vir die voorblad gekies.
Vir meer inligting oor die groep en hulle bedrywighede, besoek hulle op Facebook, Twitter en Instagram of besoek hul webwerf.
LEES OOK:Carte Blance looking into Marloth mining crisis
