Die kreatiwiteit blom
Daar is slegs nege dae oor voor die Hospice Nelspruit se Chair-A-Tee afskop.

Vanaf 22 Augustus kan enigiemand ‘n unieke, maar kreatiewe en bruikbare stoel, by die organisasie sonder winsoogmerk se vendusie aanskaf.
Hierdie stoele is deur lede van die publiek versier, en word vanaf volgende week verkoop om broodnodige fondse in te samel. Dit sal Nelspruit Hospice in staat stel om hul belangrike dienste aan pasiënte en hul gesinne te bied.
Vele van die stoele het stories agter hulle. Hanlie Nel se ontwerp van haar rosestoel het begin toe sy en ‘n dierbare vriendin op ‘n dag in Mica gaan rondsnuffel het en op die Chair-A-Teehoutstoele afkom.
“Hoe lekker en spesiaal dit sou wees om die stoele te versier, het ons nooit besef nie. Ek het begin verf en, sonder dat ek dit besef het, raak alles aan die stoel pienk. Glo my, dit is nie my kleur nie,” het sy vertel.
“Al probeer ek hoe hard, bly dit net pienk en al wat in my kop vas slaan is rose. Ek begin dink aan wat rose eintlik vir my beteken, en ek kom tot die slotsom en besef dat rose onlosmaaklik deel van lewe en dood is.
“Met ‘n stilgeboorte plaas ‘n pappa ‘n enkele wit roos in bababoetie se handjie en die vingertjies kramp vir ‘n laaste keer toe asof die engelbaba weet dat Pappa God sy mooiste roos kom pluk het. Met geboorte kry ‘n moeder ‘n mooi ruiker, en rose is teenwoordig en verteenwoordig die ‘dankie’ vir die lewe wat sy geskenk het.”
Nel voeg tienerliefde, Valentynsdag, troues, en begrafnisse by, asook al die gedigte en liedjies wat al daaroor geskryf is.
Ook dra sy intieme herinneringe daarmee saam. “My ma het altyd rose in haar tuin gehad. Wittes, om presies te wees, want wat is dan skoner as ‘n wit roos? Pa het rankrose al om ons heinings geplant. Ouma het altyd na rose geruik as ek haar ‘n drukkie gegee het.
“Rose is universeel en alombekend, en sekerlik een van ons Skepper se mooiste gawes aan ons as mens. Dus, die ‘Pienk Roos Stoel’.” Die Chair-A-Tee-vendusie skop op 20 August by chair-a-tee.co.za af, en is oop tot 4 September.
Die stoele word vanaf 22 Augustus by i’langa Mall uitgestal.
