Local newsNewsNewsSchools

Spesiale juffrou onderrig dié groep spesiale kleuters

Dié ma van 'n outistiese seuntjie sien haar eie kind in elk van die vyf gesiggies voor haar en hoop om in hulle lewens ook 'n verskil te maak.

Dis nie vir een oomblik rustig in die klas van juffrou Marelize Kotze by Busy Lizzie Kleuterskool nie.

Maar dan, dis geen gewone klassie nie en Kotze is alles behalwe ‘n gewone juffrou…

Dié ma van ‘n outistiese seuntjie sien haar eie kind in elk van die vyf gesiggies voor haar en hoop om in hulle lewens ook ‘n verskil te maak.

“Toe my kind klein was, het ons vergeefs gesoek na ‘n kleuterskool wat hom kon akkommodeer,” onthou sy. “As ‘n mens gehoor het van sy uitdaging, was alle kleuterskole skielik vol.”

Kotze weet dus hoe dit voel as elke deur in jou gesig toegeslaan word, daarom het sy besluit om nou vir ander ouers daardie deur oop te maak. “Outistiese kinders is eintlik maar net gewone kinders met ‘n ekstra uitdaging en al wat hulle vra is dat iemand hulle ook sal liefhê,” beskryf sy haar uitdaging. Sy het in Januarie 2018 begin om na twee kinders met spesiale behoeftes om te sien en sedert Oktober 2018 huur sy ‘n klaskamer by Busy Lizzie waar sy nou vyf woelige kleuters onderrig.

Onderrig is dalk ook nie die regte woord nie, want hulle leer eintlik maar so speel-speel. Intussen het Kotze begin om haar ervaring met kennis aan te vul en studeer sy tans grondslag-onderwys, spelterapie en kinderberading. “Maar die belangrikste bly om hulle te aanvaar soos hulle is,” verklap sy.

Dit is moeilik om kinders met hierdie soort uitdagings se potensiaal te bepaal, daarom stel Kotze nie aan hulle onmoontlike doelwitte nie.

“Ons verwag nie van enigeen van my klas om eendag universiteitsgrade te verwerf nie, maar help om hulle toe te rus om eendag ‘n sinvolle werk te kan doen,” sê sy.

Twee van haar leerlinge is outisties en een serebraal gestrem. Die ander is “sommer net woes besig,” lag sy. Die meeste van hulle het bitter hartseer lewensverhale en Kotze is meer as net ‘n juffrou vir hulle.

Om die waarheid te sê, funksioneer haar klas tans maar soos dié van ‘n gewone dagmoeder. Sodra Kotze na meer as ses kinders omsien, moet sy registreer. Die kinders se “skooldag” is ook baie kort en sy sluit vir vakansies. “Om tussen ander kinders te wees is vir hulle sensories baie erg, so hulle moet tyd gegun word om te ontlaai,” verduidelik sy die program. Mense wat graag van Kotze se dienste wil gebruik maak, kan haar by 084-799-3303, of die hoof van die kleuterskool by 072-315-8702 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button