KYK: Nelspruit Eisteddfod-gala-aand ‘n reuse sukses
MBOMBELA - Kunstekraaie het Donderdagaand bymekaar gedrom om die room van Laeveld-talent tydens die Nelspruit Eisteddfod-gala-aand op die verhoog te sien.

Die geleentheid is by Communio Kerk gehou en was ook ‘n feesviering van die kunstefees se 40ste bestaansjaar.
Die aand het afgeskop met Laerskool Nelspruit se seniorkoor wat “Nuwejaar” en “For the Beauty of the Earth” gesing het.
Daarna was die toppresteerders in die instrumentale musiekafdeling aan die beurt. Calista Henrichsen en Reuben Louw het die gehoor vermaak met ‘n klavier- en vioolduet waarna Franco Rawlinson die elektriese kitaar gegryp het en soos ‘n wafferse countryster vermaak het met “Apache”.
Esmé Nel, Karla Brits en Liané Hanekom het toe hul slag gewys met onderskeidelik ‘n klavier, ‘n harp en ‘n klawerbord.
Nog ‘n harpspeler, Alayna Kuzel, het die gehoor in vervoering gehad met “Variations Sur Un Theme de Mozart”.
Die Engelse spraak- en drama-afdeling was hierna aan die beurt. Dirang Mailulu het die bekende Jabberwocky gedig van Alice in Wonderland opgevoer.
LEES OOK: Penryn proudly announces its leaders for 2020
Erize de Lange, wat ook een van die aand se seremoniemeesters was, het haar dramategnieke gewys en is opgevolg deur ‘n groep dogters van Laerskool Laeveld wat ‘n vrou se stryd om ‘n bikini te dra, perfek vasgevang het.
Die vokale musiekafdeling was volgende met sangers Abby Mitton, Mariska Taljaard, Jenilee Nieuwenhuizen en Tessi Ratnarajah wat die gehoor vermaak het.
Dit was veral Zimri Leuvennik se dramatasie en skreeusnaakse vertolking van Kindergarten Love Song wat die gehoor in vervoering gehad het.
Niandi Coetzee het die Afrikaanse voordrag- en drama-afdeling afgeskop en is opgevolg deur Ronel Basson en ‘n duo met Gabi Scwizer en Christine Hanekom.
Sumari Naudé het die gehoor laat skater met Waar ‘n Rokie Trek is Daar ‘n Vuurtjie. Naudé was die ander seremoniemeester vir die aand en het ook die toekenning as mees veelsydige senior deelnemer gewen.
Die aand het afgesluit met die dansafdeling waar Naveena Sabu, Ancia Roux en Blessing Mabusela, Anesli van Wyk en twee groepe Egypt en Warriors die gehoor vermaak het.
Misha Janson het gewys dat sy die houding van ‘n superster het toe sy Gotcha opgevoer het. Sy het die junior veelsydigheidstoekenning gewen.
Die finale het afgeskop met Laerskool Nelspruit se senior koor wat “Sonneblom uit Bethlehem” opgevoer het waarna al die kunstenaars op die gehoor bymekaar gekom het op die maat van “Can You Feel the Love Tonight?”.
Thea Möller, die eisteddfod se voorsitter, het almal vir hul ondersteuning oor die afgelope 40 jaar bedank en dit op die deelnemers se harte gedruk om altyd die kunste lewendig te hou.
LEES OOK: The suspension bridge is open and ready














































