Kwagga help om die beker huis toe te bring
Dit is ook op sy ouma se plaas in dié kontrei waar Albertus die naam Kwagga gekry het.

LYDENBURG – Die hele land was verlede Saterdag in rep en roer oor die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning en dié dorp was geen uitsondering nie.
Net na die wedstryd het inwoners hulle ondersteuning gewys en deur die strate met hulle groen-en-goud uitrustings en landsvlae te ry.
Wat die Wêreldbeker egter nog meer spesiaal maak vir Lydenburg, is die feit dat een van die dorp se eie goue seuns deel was van die geskiedkundige gebeurtenis.
Kwagga Smith, oftewel Albertus Stephanus Smith, is op 11 Junie 1993 in Lydenburg gebore. Kwagga was in Laerskool Lydenburg tot en met gr. 7, vanwaar hy na HTS Middelburg is om sy rugbydroom na te jaag. Sy ouers bly steeds net buite die dorp op die R36/Ohrigstadpad naby die Spekboomvallei.
Dit is ook op sy ouma se plaas in dié kontrei waar Albertus die naam Kwagga gekry het. Duitse toeriste het destyds net voor sy geboorte sy ouma se plaas besoek. Die uitlanders het sy ouer broer gevra wat die jongste lid van die familie se naam gaan wees.
Willem, Kwagga se ouer broer, het op daardie stadium net dierename geken en het toe sommer geantwoord dat hy Kwagga gaan heet. Vandaar het die naam vasgesteek en tot vandag, selfs tydens die Wêreldbekeruitsendings, is daar na hom verwys as Kwagga.
Nadat hy ‘n aantal jare op die internasionale toneel vir die Springboksewes gespeel het, het die ywerige flank besluit om op 15-man rugby te konsentreer en het hy by die Emirates Lions aangesluit.
Hier het hy uitmuntende rugby gespeel tydens die Vodacom Superrugby-reeks. Smith het sy 15-man Bok-debuut in 2018 teen Wallis in Washington gemaak. Hy is die enigste speler wat aan beide sewes- en 15-man Rugbywêreldbekertoernooie deelgeneem het.
Steelburger/Lydenburg Nuus het Maandag met Smith se ma, Marie, oor haar seun se prestasie gesels. “Ek was vir twee weke in Japan. Ons het die kwarteindronde en die halfeindrondes gekyk, maar kon ongelukkig nie die finaal sien nie. Japan is ‘n baie mooi land. Ons kan baie by hulle leer.”
Sy meen dat Smith en sy span natuurlik in ekstase is oor die oorwinning. “Hulle is klaar op pad huis toe. Hulle behoort seker Dinsdag in Suid-Afrika te land.”
Marie is natuurlik ook baie trots op haar jongste seun se mees onlangse rugbyhoogtepunt. Smith is, ten spyte van sy groot liefde vir rugby, nog ‘n plaasseun.
Op sy Twitterrekening beskryf hy homself as voltydse boer en deeltydse rugbyspeler. Die dorp is voorwaar trots op dié boer wat bygedra het om die trofee huis toe te bring.
