Klein hondjie oorleef swart mamba se byt
Dit was 'n lang naweek vir Rossi die pekinees en sy mensgesin nadat hy deur 'n swartmamba gepik is, maar wonderbaarlik oorleef het.

Tanya du Rand en haar man Zander woon sowat 15 km uit die dorp uit op ‘n plaas. Hulle was Saterdagaand op pad uit toe sy Rossi erg hoor blaf.
“Hy het aanhoudend geblaf en jy ken mos jou diere,” vertel sy. Toe Tanya die motorhuis se deur oopmaak, is Rossi daar besig met die mamba en gryp hom aan sy lyf.
“Hy val nogal slange aan. Ek het al dooie slange hier gekry. Ek dink hy dink hy is ‘n Jack Russell of ‘n leeu. Hy staan nie terug nie.”
Tog weet sy mambas is rats, en het sy dadelik vermoed hy is gepik. Die slang was teen die tyd ook dood van Rossi se byt.
LEES OOK: Wim Bosman lê sy penne en kwaste finaal neer
Zander het die veearts se noodnommer geskakel om uit te vind van simptome en toe Rossi begin hyg na asem, het hulle dorp toe gejaag.
“My man het nog nooit so vinnig gery nie. Ons het dit amper nie betyds gemaak nie. Hy is so te sê dood in my arms.”
Volgens veearts Christo Nortje het Rossi by sy aankoms nie asemgehaal nie en glad nie gereageer nie. Hy was potblou met baie skuim om sy bek, en het slegs ‘n aritmiese pols gehad.
Hulle het dadelik die hondjie geïnkubeer en hom twee teengifdosisse toegedien.
Hoewel sy hartklop verbeter het, is al die spiere wat hy gebruik om asem te haal deur die slang se gif geaffekteer. Nortje verduidelik dat swartmambagif die senuwee-impulse na die spiere blokkeer, wat al die spiere in die liggaam verlam. Gepaard met vog wat opbou in die longe, veroorsaak dit in baie diere wat gepik word die dood.
Hulle het begin met behandeling vir die vog op Rossi se longe en hom meganies geventileer.
Gelukkig het hierdie veeartse al die toerusting wat hulle nodig het en hy is op ‘n drup geplaas en aan ‘n ventilator gekoppel. Hy is deur die nag narkose gegee om hom vir sowat 10 uur in ‘n koma te sit om die gif ‘n kans te gee om uit te werk.

Met ‘n kamera kon die veeartse ook hul pasiënt deur die nag monitor. Rossi is voorwaar ‘n vegter en na 10 uur het hy self begin asem haal. Na sowat 48 uur kon hy sy koppie begin lig en kort daarnaa ‘n bietjie begin eet.
Nortje sê hulle was baie bly aangesien sowat 80 % van honde wat gebyt word dit nie tot by die kliniek maak nie, en dat sowat 10 % van hulle nog steeds doodgaan.
“Ons sien deesdae baie meer dat honde in die aand deur slange gepik en gespoeg word; dis moontlik weens die warm dae dat slange eerder in die aande uitkom,” het hy bygevoeg.
Tanya het gesê Nortje het regdeur die nag oor Rossi gewaak. “Ons is baie dankbaar en waardeer almal se bereidwilligheid om die ekstra myl te gaan. Rossi is veilig tuis en sterk goed aan.”
