Jock van die wapad pronk langs N4 danksy geheime kunstenaar
Wie weet wie is die geheimsinnige kustenaar?

Wie het al die mooi toevoegings tot die Jock of the Bushveld-wegaanwyser langs die N4 by die afdraai na Masgobe Lodge, naby die afdraai na Marlothpark, opgemerk?
LEES OOK: liefde-heers-onder-die-oues-van-dae-tydens-ete
Die merker is sowat twee jaar gelede deur Mpumalanga Erfenis opgerig as een van die 38 historiese Jock Trek 1885-wegwysers om die roete van die ou transportpad vanaf Lydenburg na die see by Delagoabaai, vandag Maputo, aan te dui. Hierdie was dieselfde roete wat Jock en sy baas, Percy FitzPatrick, gevolg het tydens hulle jare saam op die wapad, en wat dien as agtergrond vir die bekende boek oor die hond en sy baas, Jock of the Bushveld.
Hierdie Jock-merker is opgerig op die plek waar die ou waroete deur die Onderberg tussen Nelmapiusdrift deur die Krokodilrivier naby Hectorspruit en Furleysdrif deur die Komatirivier die N4 kruis. Die wegwyser is met die toestemming van die eienaar van Masgobe Lodge agter die heining opgerig. Aangenaam was die onlangse ontdekking dat daar nou ook ‘n prettige houtgesnede beeld van Jock by die merkers opgerig is, sê Marius Bakkes, ondervoorsitter van Mpumalanga Erfenis, ‘n geregistreerde erfenisbewaringsorganisasie.

Dit gee verdere betekenis aan hierdie poging tot die bewaring van die erfenis van ons provinsie, en hy bedank die mense van Masgobe vir die gebaar. ‘n Mens wonder net wie is die kunstenaar van die oulike beeld, en dit sou gaaf wees om ‘n foto van die kunstenaar by sy skepping te neem, om ook hier in die koerant te plaas en in die Jock-argiewe te bewaar.
“Dit is hoe die geskiedenis lewendig gehou word en die opwinding en geheimsinnigheid van die verlede aan aan ‘n nuwe geslag oorgedra word, sê Bakkes.”
