Local newsNews

Verslawing aan aanlynspeletjies groot kommer

Deesdae word persoonlike gesprekke vir dié op elektroniese skerms verruil. Nog 'n groter sondebok is die verslawing aan aanlynspeletjies.

Deesdae is dit byna onmoontlik om iemand te ontmoet wat nog nie een of ander vorm van dié speletjies gespeel het nie.

Van selfone, tablette en rekenaars – daar waar toegang tot die internet is, is die geleentheid om in ‘n virtuele wêreld weg te raak. Steelburger/Lydenburg Nuus het met ‘n paartjie gesels waarvan die man verslaaf is aan internetrekenaarspeletjies. Hulle het ingestem om met die koerant te gesels mits hulle anoniem kan bly.

Ander relevante artikels: ‘n Lewe met disleksie

*Kevin en *Amy-Lee is twee jaar getroud en het ‘n dogtertjie van agt maande. Sowat ‘n jaar gelede het Kevin se vriende hom genader om saam met hulle aan ‘n aanlyntoernooi deel te neem. Amy-Lee sal sê dat dit die oomblik was toe alles verander het – nie net in hulle verhouding nie, maar ook in Kevin se persoonlikheid.

“Hy het van elke beskikbare oomblik gebruik gemaak om voor die rekenaar te sit… Ure en soms dae aaneen,” verduidelik sy. Wanneer Amy-Lee daaroor wou gesels, het dit altyd in ‘n stryery opgeëindig.

Lees ook meer hier: ‘n Lewe na ‘n ongeluk

“Ek het ‘n punt bereik waar ek hom net gelos het; ek het nie meer krag gehad om mee te ding met ‘n selfoon of rekenaar nie. Hy praat meer met die mense aanlyn as met my en ek het nou maar vrede gemaak dat ek ‘n enkelma is, hoewel hy in die studeerkamer sit,” vertel sy.

Kevin is bewus van die wrywing wat sy aanlynlewe op hulle verhouding het, maar hy meen dat hy nie die kwaad daarin kan sien as hy uit die pad is en niemand pla nie. Volgens hom is dit nie ‘n verslawing nie, maar meer ‘n ontsnappingsmeganisme.

“Baie mans lê heeldag voor die televisie en kyk sport. Daar is niks verkeerd daarmee nie, so wat maak dit anders?”

Die paartjie sien tans ‘n berader om ‘n middeweg te vind om die konflik te beperk. Amy-Lee voel dat haar dogtertjie na haar pa verlang, al sit hy net om die hoek, en dat Kevin baie spesiale oomblikke in haar lewe misloop. Sy vertel dat hy selfs ure in die badkamer deurbring om ‘n “oorlog” te veg op sy selfoon en dat hy in gesprekke tussen kuiergaste op sy foon sal besig wees met een of ander speletjie. Mans is egter nie die enigste skuldige party in hierdie geval nie.

Lees ook gerus hierdie artikel: Wees deel van ‘n kursus wat jou lewe sal verryk

*Charmaine is ‘n enkellopende vrou wat aan Steelburger/Lydenburg Nuus erken het dat sy wel ook verslaaf is aan aanlynspeletjies. “Dit help nie ek ontken dit nie, feite is feite,” meen sy.

Sy vertel hoe sy vir ure aanlyn sal speel en soms van een Wi-Fi-punt tot die volgende sal gaan om net ‘n speletjie te kan klaarmaak. Sy kan haar nie ‘n dag, of selfs ‘n uur, sonder haar foon indink nie.

Volgens Desiré Denysschen, sielkundige berader in Lydenburg, is dit wel iets waaraan mense verslaaf kan word. “Soos enigiets anders is dit wel ‘n aspek wat ‘n bedreiging vir sosiale interaksie inhou. Dit is amper soos pornografie, om dit kras te stel.”

Diegene met ‘n abnormale afhanklikheid van hierdie speletjies word egter aangeraai om die nodige hulp te bekom, hetsy deur ‘n mediese dokter of sielkundige.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button